DIE BYBEL

 

 

Engels

Meer as 4,8 miljoen Suid-Afrikaners praat Engels by die huis.

Die eerste vertaling van die volledige Bybel in Engels word met die naam, John Wycliffe, verbind. Wycliffe het 'n groep 'arm priesters' saamgeroep om 'n eenvoudige lewe te lei om so die boodskap van Christus aan mense oor te dra in 'n manier wat hulle kon verstaan. Hy het gou agtergekom dat hulle 'n Bybel in Engels benodig. Hoeveel van die aanvanklike vertaling aan hom te danke is, is onbekend, maar danksy die hulp van Nicholas de Hereford en ander persone is 'n Engelse Bybel in 1383 voltooi.

Die eerste gedrukte Engelse Bybel het in 1535 verskyn. Die eerste uitgawe, die Authorised/King James Version, het in 1611 verskyn. Ander meer onlangse Engelse vertalings wat deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika verkoop word, sluit die 'Good News Bible (GNT)', 'Contemporary English Version (CEV)', 'New International Version (NIV)' en 'English Standard Version (ESV)' in.

'n Spesiale vertaling vir Engelssprekende Dowes, die English Bible for the Deaf, is in 2019 deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika gepubliseer. Hierdie baie maklik leesbare Bybel is vertaal vir dowe lesers wat Gebaretaal gebruik en wat sukkel om ander Bybelvertalings wat vir horende mense vertaal is, te verstaan.