'n Geloofwaardige erfenis

blog 14

Erfenisdag is 'n dag om die verskeidenheid in ons land wat taal en kultuur betref te vier, maar ook om na te dink hoe hierdie verskeidenheid ons kan help om 'n nasie te bou. Verskeidenheid sluit nie noodwendig eenheid uit nie.

Die Bybel, die wonderlikste boek wat ooit geskryf is, is deur 'n verskeidenheid skrywers geskryf. Manne uit verskillende tydperke, kulture en tale, met selfs verskillende skryfstyle het tot hierdie meesterstuk bygedra. Die Bybel reflekteer die Kerk waar 'n verskeidenheid mense aangetref word wat oor verskillende talente en gawes beskik en waar niemand onbelangrik in die oë van God is nie. (1 Korintiërs 12:12-19, Romeine 12:4-8,16).

Hoe kan ons as Christene ook 'n belangrike erfenis nalaat? Kyk ons na die lewe van Christus het Hy sy dissipels agtergelaat om die wêreld te verander en hulle die opdrag gegee om alles wat Hy hulle geleer het onder al die nasies te verkondig. (Matteus 28:18-20) Vandag volg ons in die voetstappe van ons Verlosser en leer ons van dit wat sy apostels en profete in die Bybel neergepen het. Ons kan mense help om sy dissipels te word deur hierdie Werktuig bekend as die swaard van die Gees, die woord van God, te gebruik (Efesiërs 6: 17).

Die wêreld is vol ongeloof en definitief nie sonder skeptisisme nie. Die boodskap van die Bybel het egter deur die eeue behoue gebly. In Johannes 1 lees ons dat Jesus die Woord van God is. In Openbaring 19:13 lees ons dat teen die einde van tyd word Jesus steeds as die Woord van God beskryf, Kan ons Jesus glo? Praat Hy die waarheid? Het Hy ooit iemand bedrieg? Kan ons die Bybel vertrou?

Baie verse, in beide die Ou en Nuwe Testament, beklemtoon die gesag van die Bybel en dat dit deur God geïnspireer is soos ons in 2 Timoteus 3:16 lees. Verder lees ons in 2 Petrus 1:21: want geen profesie is ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig. So bevestig Johannes 16:13 en Johannes 14:17 ook die Gees van die waarheid.

Jesus, God wat vlees geword het, het dikwels uit die Ou Testament aangehaal. Toe Hy byvoorbeeld die Emmausgangers ontmoet het, het Hy die Ou Testament gebruik om aan hulle te verduidelik wat in die Skrif oor Hom gesê word. (Lukas 24:25-27) Die Leraar van alle leraars het deur die Ou Testament vir hulle een van die wonderlikste lesse ooit gegee. Ja waarlik, Jesus glo in die onfeilbare, gesaghebbende woord van God.

Ons weet van verskeie gevalle in die geskiedenis waar geleerdes en wetenskaplikes wanneer hulle met die waarheid van die Bybel gekonfronteer word, hulle denkwyses verander en bely het dat daar werklik 'n God bestaan.

Die aand voor sy kruisiging, het Jesus gebid en gesê dat die woord die waarheid is. (Johannes 17:17) Christus het gekom om die Skrif te vervul, en waarlik die Woord van God het elke woord geleef. Eendag gaan ons almal voor Hom moet buig en in die ewigheid sal alle nasies voor die troon van God die knie buig. (Filippense 2:10 en Openbaring 7:9) Alhoewel Jesus gesterf het, het Hy opgestaan en sy woorde is vir ewig, 'n lewende erfenis vir ons, mans en vrouens van alle nasies wat dit gebruik as 'n dinamiese gids op die lewenspad.

Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika is trots om deel te wees van so 'n ontsagwekkende erfenis. Ons taak is om hierdie lewegewende Boek te vertaal, te publiseer en te versprei. Die Bybel is reeds vertaal in al die amptelike tale van Suid-Afrika en is beskikbaar in 'n verskeidenheid formate om te voorsien in die Bybelbehoeftes van ons mense. Die Bybel is selfs beskikbaar vir siggestremdes, Dowes en vir diegene wat dit in 'n digitale formaat verkies. Deur ons geletterdheidsprojek word nie net basiese gelterdheid nie, maar ook bybelse geletterdheid bevorder.

Ons is dankbaar om reeds vir byna 200 jaar in Suid-Afrika deel te kan wees van hierdie geloofwaardige erfenis.