• Ons Missie

    Dit is die taak van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika om bekostigbare Bybels te voorsien vir elkeen in hul eie taal en in geskikte formate sodat almal die lewegewende boodskap van die Woord mag ervaar.
  • 1

Good News Bible 40 jaar oud

news 5

Veertig jaar gelede, in 1976, publiseer die Amerikaanse Bybelgenootskap die volledige 'Good News Bible' (GNB) vir die eerste keer. Aan die einde van daardie jaar word hierdie Bybel in Suid-Afrika bekendgestel. Sedert 1977 publiseer die Bybelgenootskap van Suid-Afrika ook 'n Suid-Afrikaanse uitgawe van hierdie vertaling.

Die GNB het sy ontstaan te danke aan onder andere versoeke uit Afrika en die Ooste vir 'n Engelse Bybelvertaling wat maklik verstaanbaar en leesbaar is vir mense vir wie Engels 'n tweede of selfs derde taal is.

In 1966 verskyn die Nuwe Testament as 'n sagteband met die titel Good News for Modern Man. Hierdie uitgawe tref die wêreld met 'n stormloop en teen 1969 was daar reeds meer as 17,5 miljoen eksemplare verkoop.

Hierdie gewildheid gee aanleiding tot 'n versoek van die Wêreldbond van Bybelgenootskappe dat die Amerikaanse Bybelgenootskap hierdie vertaling namens Bybelgenootskappe moet voltooi. In 1976 verskyn die volledige vertaling wat direk uit die brontekste (Hebreeus, Aramees en Grieks) vertaal is en waar daar van die dinamies-ekwivalente vertaalmetode gebruik gemaak is. Die kunstenares, Annie Vallotton, was verantwoordelik vir die besondere lyntekeninge in hierdie Bybel.

In 1979 verskyn 'n uitgawe wat ook die Deuterokanonieke Boeke bevat en in 1992 'n hersiene uitgawe. Bybelgenootskappe wêreldwyd publiseer jaarliks verskillende formate van hierdie vertaling.

In Suid-Afrika is die GNB oor die jare uiters gewild. Oor die afgelope 40 jaar het die Bybelgenootskap van Suid-Afrika meer as 3,2 miljoen eksemplare van hierdie Bybel in verskillende formate wat gedrukte Bybels, Oudio- en e-Bybels insluit, versprei. In 2015 was byna 67% van alle Engelse Bybels wat die Bybelgenootskap versprei het, in hierdie vertaling.

'n Bybel vir
elkeen

Gee nou