Spesiale geletterdheidsmateriaal in isiZulu nou beskikbaar

news 7

On 9 Februarie 2017 verskyn twee Bybelgebaseerde geletterdheidsboekies in isiZulu vir die eerste keer. Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA) stel hierdie geletterdheidsboekies bekend in die Power of God Gemeenskapskerk in Embo naby Hillcrest in KwaZulu-Natal. Die byeenkoms begin om 10:00.

Die geleentheid sal bygewoon word deur onder andere lede van die KwaZulu-Natal Onderwysdepartement, die Departement van Kuns en Kultuur, asook verskeie kerk- en gemeenskapleiers.

Die belangrikste gaste vir die dag is egter 300 graad R, 1 en 2-leerders van die Khanyakhwezi, iBambo, Vusumuzi. Gwadu Zenex en iPhoshane primêre skole. Elkeen van hierdie kinders sal 'n stel isiZulu geletterdheidsboekies ontvang.

Hierdie basiese geletterdheidsprojek wat uit twee boekies bestaan, My eerste Bybel Doen en Leer Boek (Ibhayibheli lami Lokusebenzela nokufunda Incwadi-1) en My 2de Bybel doen en Leer Boek (Ibhayibheli lami Lokwenza nokufunda Incwadi-2) is veral op voorskoolse kinders en grondfaseleerders (Graad R, 1 en 2) gerig.

Die BSA het twee gekwalifiseerde moedertaalsprekers genader om te help met die ontwikkeling, vertaling en redigering van die isiZulu boekies. Biskop Sibusiso Lindani Zondi het gehelp met die ontwikkeling en vertaling van die materiaal en mnr Robert Mchunu met die redigering.

'n Paar jaar gelede het die Bybelgenootskap bewus geraak van duisende kinders in veral arm woonbuurte wat deur die dag in dagsentrums versorg word, maar geensins aan enige vorm van geletterdheid blootgestel word nie. Baie van hierdie kinders het ook nie die voorreg om die ontvangsfase (graad R) by te woon nie. Vergelyk 'n mens hulle omstandighede met die van kinders uit bevoorregte huise wat reeds voor hulle met skoolopleiding begin, gemiddeld aan ongeveer 400 uur van geletterdheidstimulasie blootgestel word, is dit duidelik dat baie gemarginaliseerde kinders hulle skoolopleiding met 'n agterstand begin.

Na deeglike navorsing het die Bybelgenootskap besluit om Bybelgebaseerde geletterdheidsmateriaal te ontwikkel. Die program is gebaseer op die Doen en Leer-metode wat deur wyle dr Rose Botha, 'n opvoedkundige, ontwikkel is, en wat goedgunstiglik aan die Bybelgenootskap beskikbaar gestel is. Die boekies betrek feitlik alle sintuie om basiese lees- en skryfvaardighede te ontwikkel. Die onderwyser se taak word vergemaklik deur die gebruik van kleurvolle illustrasies, ikone, flitskaarte en verskillende aktiwiteite soos lees, skryf, syfers, teken en sing.

Die boekies is reeds beskikbaar in Engels, Afrikaans, isiXhosa, Sesotho en nou ook in isiZulu. Die materiaal word tans ook in Sepedi en al die oorblywende Suid-Afrikaanse tale voorberei.

Met verwysing na geletterdheid het ds Dirk Gevers, die Uitvoerende Hoof van die Bybelgenootskap, gesê “Ek stem saam met UNESCO dat geletterdheid ‘n basiese mensereg is en die fondasie is vir ‘n lewenslange leerproses. Geletterdheid is ‘n instrument om mense te bemagtig en beskik oor die vermoë om lewens te verander. Die taak van die Bybelgenootskap is gemeenskapsgerig en met hierdie projek wil ons 'n verskil in ons gemeenskappe maak deur hoop te bring en ons mense te help om hulle volle potensiaal te bereik. Nie net kan hierdie boekies 'n bydrae lewer tot die lees- en skryfvaardighede van ons kinders nie, maar hulle kan ook reeds op 'n baie vroeë ouderdom begin om die Bybel, met sy boodskap wat lewens waarlik kan verander, te ontdek."

Danksy Bybelgenootskapdonateurs is duisende van hierdie boekies reeds gratis beskikbaar gestel aan veral kinders wat in arm dele van ons land woon. Die Bybelgenootskap maak gebruik van implementeringsvennote, byvoorbeeld kerke, skole, organisasies en individue. Enige persoon wat kan lees kan, met behulp van flitskaarte en 'n handleiding wat saam met die boekies voorsien word, iemand anders help om die basiese lees- en skryfvaardighede te bemeester. Indien meer inligting benodig word, kontak asseblief u naaste Bybelhuis of skakel 021 910 8705 of stuur 'n e-pos aan: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..