Bybelvertaling

204 jaar van
Bybelvertaling

40 voltooide
Bybeltekste

Bybelvertaling bly een van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika se kerntake. Ons doelwit is om Bybels vir alle Suid-Afrikaners in die taal van hul keuse beskikbaar te stel sodat almal die lewegewende boodskap van God se Woord kan ervaar. Dit neem 10 tot 15 jaar om ‘n volledige Bybel in ‘n nuwe taal te vertaal. Dit kos ongeveer R20 miljoen om ‘n Bybel te vertaal.

HUIDIGE PROJEKTE

Bible Translation Projects

!Xuhn Bybelvertaling

Sowat 4 000 San wat !Xuhn praat, bly in Platfontein naby Kimberley in die Noord-Kaap. Hierdie groep is hoofsaaklik van Angola maar bly reeds vir meer as 20 jaar in Suid-Afrika. Daar is ook 10 000 tot 50 000 sprekers van hierdie taal wat nog in Angola en Namibië bly.

Die groep in Platfontein het ‘n skool, ‘n kerk en ‘n radiostasie, maar nie ‘n Bybel nie. Skriflesing word vanuit die Luchazi (‘n taal in Angola) en Afrikaanse Bybels gedoen, maar die kinders verstaan nie meer Luchazi nie. Na deeglike navorsing en in samewerking met die Bybelgenootskappe van Namibië en Botswana, asook ander Bybelvertalingsagentskappe wat werksaam is in die gebiede waar die San woonagtig is, is ‘n besluit geneem dat die Bybelgenootskap van Suid-Afrika die vertaling van die Bybel in !Xuhn sal onderneem.

‘n Vertaalspan wat uit drie lede en ‘n Hersieningskomitee van sowat 20 lede bestaan, het in 2018 met die vertaling begin. Die drie vertalers het reeds konsepvertalings van Genesis tot Openbaring voltooi. Konsepvertalings van die Deuterokanonieke boeke is voltooi. Die Hersieningskomitee het reeds Genesis tot 1 Kronieke hersien.

Khwedam Bybelvertaling

Die Suid-Afrikaanse regering het aangedui dat daar ‘n behoefte is om tale, veral inheemse tale, in die land te ontwikkel. Khwedam, wat deur van die mense in die Noord-Kaap gepraat word, is so ‘n taal.

Hierdie vertaling sal nie net vir die mense in die Noord-Kaap van waarde wees nie, maar sal – net soos die !Xuhn vertaling wat in 2018 begin is – ook vir diegene in Botswana en Namibië baie beteken. Na samesprekings met verskeie Bybelgenootskappe en ander Bybelvertalingsagentskappe, is daar besluit dat die Bybelgenootskap van Suid-Afrika die vertaling van die Bybel in Khwedam sal onderneem.

Hierdie projek het in 2019 begin en die vertalers het reeds konsepvertalings van Genesis tot Openbaring voltooi. Die Hersieningskomitee het reeds Genesis tot Levitikus hersien.

Khelobedu Bybelvertaling

Daar is sowat 500 000 mense wat in dele van Limpopo woon wat Khelobedu praat en tans is daar geen gedrukte Bybelgedeeltes in hierdie taal beskikbaar nie.

Die projek het in Oktober 2021 begin en die ses vertalers het reeds die konsepvertalings van Genesis tot Markus, 2 Korintiërs, Filippense tot 1 Tessalonisense, 2 Timoteus tot 1 Johannes, Judas en Openbaring voltooi. Die Hersieningskomitee het reeds Genesis tot Rut hersien.

TjiHlanganu Bybelvertaling

TjiHlanganu word in Mpumalanga gepraat en daar is tans geen Bybelgedeeltes in hierdie taal beskikbaar nie. Hierdie projek het in Januarie 2022 begin en die konsepvertalings van Genesis tot Daniël, Joël tot Sagaria, Matteus tot Jakobus, 1 en 2 Johannes, Judas en Openbaring is voltooi. Die Hersieningskomitee het reeds Genesis tot Numeri, Rut, Obadja, Habakuk en Jona hersien.

ONDERSTEUN HIERDIE PROJEKTE

Hoe kan jy help?

Elke R100 wat ontvang word, ondersteun die Bybelvertalingsprojekte waarmee ons vanjaar besig is. Wees ’n saaier van hoop.

GESKIEDENIS VAN BYBELVERTALING

This one will be hidden to keep accordion closed

Meer as 5,3 miljoen Suid-Afrikaners praat Engels by die huis.

Die eerste vertaling van die volledige Bybel in Engels word met die naam, John Wycliffe, verbind. Wycliffe het ‘n groep ‘arm priesters’ saamgeroep om ‘n eenvoudige lewe te lei om so die boodskap van Christus aan mense oor te dra in ‘n manier wat hulle kon verstaan. Hy het gou besef dat hulle ‘n Bybel in Engels benodig. Hoeveel van die aanvanklike vertaling aan hom toegeskryf kan word, is onbekend, maar danksy die hulp van Nicholas de Hereford en ander medewerkers is ’n Engelse Bybel in 1383 voltooi.

Die eerste gedrukte Engelse Bybel het in 1535 verskyn. Die eerste uitgawe, die Authorised/King James Version, het in 1611 verskyn. Ander meer onlangse Engelse vertalings wat deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika verkoop word, sluit die Good News Bible (GNT), Contemporary English Version (CEV), New International Version (NIV) en English Standard Version (ESV) in.

The Bible for the Deaf

’n Spesiale vertaling vir Engelssprekende Dowes, die English Bible for the Deaf, is in 2019 deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika gepubliseer. Hierdie baie maklik leesbare Bybel is vertaal vir dowe lesers wat Gebaretaal gebruik en wat sukkel om ander Bybelvertalings wat vir horende mense vertaal is, te verstaan.

Hierdie Grootdrukbybel het meer as 80 000 voetnote en 45 000 verwysings na tekeninge wat illustreer hoe voorwerpe in bybelse tye gelyk het.

Hierdie Bybel is vir enigeen wat in ‘n baie eenvoudige en maklike taal wil lees wat die Here gesê het en wat hy vir ons wil gee.

VIDEO: Bybelvertaling vir Dowes

English Standard Version (ESV)

Die English Standard Version (ESV) is ’n formele vertaling wat in 2001 vir die eerste keer gepubliseer is. Die vertaling poog om die betekenis en struktuur van die oorspronklike teks asook die persoonlike styl van elke Bybelskrywer vas te vang, terwyl dit steeds duidelik en en van hoë literêre gehalte is. Die ESV is daarom gepas vir beide persoonlike Bybellees en kerkbediening, vir gewyde besinning en ernstige Bybelstudie.

Good News Translation (GNT)

Die Good News Translation (voorheen die Good News Bible of Today’s English Version) is ’n maklike, leesbare vertaling. Dit wyk af van die tradisionele woordeskat en styl in ’n poging om die betekenis van die oorspronklike teks weer te gee in ’n Engels wat mense verstaan.

Die vertaling is in 1976 vir die eerste keer gepubliseer vir gebruik regoor die wêreld.

King James Version (KJV)

Die King James Version (KJV) wat in 1611 vir die eerste keer gepubliseer is, is ’n formele vertaling waar elke woord van die bronteks in die teikentaal vertaal is. Hierdie vertaling is geliefd en aanvaar onder Christene.

Ondanks die verskeie moderne vertalings wat tans beskikbaar is, word die KJV steeds deur ’n groot aantal mense regoor die wêreld gelees.

New King James Version (NKJV)

Die New King James Version (KKJV) is ook ’n formele vertaling wat vir die eeste keer in 1982 gepubliseer is. Die doel met die vertaling was om die oorspronklike teks van die KJV op te dateer en te moderniseer maar dit ook soveel as moontlik bewaar.

New International Version (NIV)

The New International Version (NIV) is ‘n moderne vertaling. Die doel van hierdie vertaling was om ‘n akkurate vertaling te produseer, geskik vir publieke en private lees, sowel as onderrig, prediking, memorisering en liturgiese gebruik.

Die vertaling is vir die eerste keer in 1978 gepubliseer. Die vertalers het probeer om ’n mate van kontinuïteit te behou wat betref die lang tradisie van Bybelvertaling in Engels. Die NIV behou dus bewoording in baie gedeeltes wat dieselfde is of baie naby is aan vroeëre vertalings.

Setswana, wat in Botswana gepraat word, is ook die moedertaal van sowat 5 miljoen mense wat in Suid-Afrika woon.

Robert Moffat was die pioniervertaler van die Bybel in Setswana. Hy het die taak begin kort nadat hy in 1817 in Kuruman aangekom het.

Setswana is die eerste Suid-Afrikaanse taal om ’n volledige Bybel te ontvang.

Soos Moffat die Bybelgedeeltes voltooi het, is dit op ‘n sendingdrukpers in Kuruman gedruk.

In 1857 is hierdie vertaling in een volume gepubliseer. In 1908 verskyn ‘n hersiening van die Bybel wat hoofsaaklik deur Alfred Wookey gedoen is.

Die mees onlangse vertaling van hierdie Bybel is in 1970 voltooi.

Meer as 10 miljoen Suid-Afrikaners praat isiXhosa.

Die vroegste Bybelvertalings in isiXhosa was hoofsaaklik die werk van sendelinge soos William Shaw en William Boyce van die Wesleyaanse Sendinggenootskap (WMS).

Die geskiedenis van die isiXhosa Bybel het in 1833 begin toe die eerste boek van die Bybel (Lukas) in Grahamstad vertaal is.

Die eerste volledige Bybel het in 1859 verskyn maar het eers in 1864 in een volume verskyn. Die jongste hersiening van hierdie Bybel is in 1975 voltooi en word nog alom gebruik.

Die jongste vertaling van die Bybel in isiXhosa is in 1996 voltooi en is ‘n gedagte-vir-gedagte vertaling.

Meer as 4,8 miljoen Suid-Afrikaners praat Sesotho as huistaal en meeste Sesotho sprekers is in die Vrystaat en Gauteng woonagtig. Dit word ook in Lesotho gepraat.

Eugène Casalis en Samuel Rolland, twee sendelinge van die Paryse Evangeliese Sendinggenootskap het reeds in 1836 met die vertaling van die Bybel in Sesotho begin en die eerste Bybelgedeeltes, Die Evangelies van Markus en Johannes, is in 1839 gepubliseer.

Die vertaling van die volledige Bybel is in 1878 voltooi en gedeeltes is op sendingdrukperse by Morija en Masitisi in Lesotho gedruk. Die eerste Bybel wat in een volume gepubliseer is, is in Engeland in 1881 gedruk. Weens die Basotho oorloë kom die Bybels eers in 1883 in die destydse Basotholand aan. Hierdie Bybel, wat vandag nog gebruik word, is in 1909 hersien.

Die mees onlangse vertaling van die Sesotho Bybel was in 1989 gepubliseer.

IsiZulu is die mees wydgesproke taal in Suid-Afrika, met meer as 15 000 000 sprekers landwyd. Die grootste konsentrasie van isiZulu sprekers (80%) woon in KwaZulu-Natal.

Sendelinge van die ‘American Board of Commissioners for Foreign Missions’ (ABCFM) het in 1835 in Port Natal aangekom. Hierdie groep het hulself onderskei as die eerste vertalers van die isiZulu Bybel. Die eerste volledige Bybelboek om in isiZulu vertaal te word is die Evangelie volgens Matteus, vertaal deur George Champion en hersien deur Newton Adams.

Die eerste volledige isiZulu Bybel wat die vertalingswerk van die ABCFM-sendelinge geïnkorporeer het, is in 1883 deur die Amerikaanse Bybelgenootskap gepubliseer. ’n Nuwe uitgawe is in 1893 gepubliseer.

In 1959 het ’n nuwe vertaling van die isiZulu Bybel verskyn. In 1997 is hierdie vertaling in ’n nuwe ortografie – volgens die jongste reëls van die destyds Zulu Taalraad – gepubliseer.

’n Nuwe bronteksgeoriënteerde, dinamiese vertaling wat gepas is vir voorlesing in eredienste en Sondagskool, Bybelstudie asook persoonlike gebruik, is in 2020 gepubliseer.

Sepedi is die huistaal van meer as 6,2 miljoen Suid-Afrikaners en word hoofsaaklik in Limpopo en Gauteng gepraat.

Dit was sendelinge van die Berlynse Sendinggenootskap wat die eerste vertaling van die Bybel in Sepedi vertaal het. Die pioniervertaler was pastoor JFC Knothe. Na sy dood in 1892, is die vertalingswerk voortgesit deur G  Trümpelmann en H Kuschke met die hulp van A Serote en G Eiselen. Die eerste volledige Bybel het in 1904 verskyn en is in 1951 hersien. Hierdie vertaling word vandag nog gebruik.

In 2000 word ’n nuwe Sepedi Bybelvertaling deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika uitgegee.

Xitsonga is die huistaal van meer as 2,9 miljoen Suid-Afrikaners wat hoofsaaklik in Limpopo en Gauteng woon.

Die pioniervertalers van die Bybel in Xitsonga is Paul Berthoud, sy broer Henri en Ernest Creux, sendelinge van die Frans-Switserse Sending wat in 1875 na Suid-Afrika toegekom het.

In 1892 is die eerste twee boeke van die Bybel – Evangelie volgens Lukas en Handelinge –in Xitsonga vertaal. Die eerste Nuwe Testament het in 1894 verskyn terwyl die eerste volledige Bybel – in twee volumes gedruk – in 1907 verskyn het. Hierdie vertaling is in 1929 hersien en in 2012 word dit in ‘n nuwe ortografie gepubliseer.

‘n Nuwe vertaling in Xitsonga is in 1989 gepubliseer.

Afrikaans is die huistaal van bykans 7 miljoen Suid-Afrikaners.

1933/1953-vertaling

In 1878 is gedeeltes van die Bybel vir die eerste keer deur CP Hoogenhout, A Pannevis en SJ du Toit in Afrikaans vertaal. Die eerste volledige Bybel is egter eers in 1933 gepubliseer. ‘n Hersiene uitgawe is in 1953 gepubliseer. Hierdie tradisionele vertaling wat van die Hebreeus, Grieks en Arameses brontekste vertaal is, staan vandag as die 1933/1953-vertaling bekend en is steeds baie gewild.

1983-vertaling

Op 5 Julie 1968, tydens ’n seminaar vir vertalers van die Afrikaans Bybel en ander belangstellende partye, is ’n eenparige besluit geneem om die Bybelgenootskap van Suid-Afrika te versoek om met ’n nuwe vertaling in Afrikaans te begin. Die vertaling moes die ontwikkeling van die Afrikaanse taal in ag neem en ook so getrou as moontlik aan die Hebreeus, Grieks en Aramese brontekste wees.

Op 2 Desember 1983 is Die Bybel: Nuwe Vertaling in Kaapstad bekendgestel. Die vertaling was meer betekenisgebaseerd as die 1933/1953-vertaling, en het in sy doel geslaag om tot Afrikaanssprekende mense binne en buite die kerk te spreek in ’n hedendaagse en goeie Afrikaans.

Die Bybel vir almal

Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika het in 2007 Die Bybel vir Dowes gepubliseer wat later na Die Bybel vir almal verander is. Dit is van die brontekste vertaal na ’n maklike, leesbare Afrikaans sonder om die boodskap van die oorspronklike teks te verloor.

Die Bybel is ook in grootdruk gepubliseer om dit maklik leesbaar te maak. Die groot getal voetnote help met die die verduideliking van woorde en begrippe en verskaf ook bykomende inligting.

2020-vertaling

In antwoord op ’n versoek van die Afrikaanssprekende kerke, het die Bybelgenootskap aan die 2020-vertaling van die Afrikaanse Bybel begin werk. Dit was duidelik dat daar’n behoefte is aan ‘n Bybel wat nouer aansluit by die brontekste (Hebreeuws, Aramees en Grieks) as die bestaande vertalings. Baie gelowige het ’n behoefte gehad aan ’n Bybel wat die bronteks getrou weergee, maar steeds maklik verstaanbaar is.

Die vertalingsopdrag was om ’n maklik verstaanbare, bronteks-georiënteerde Afrikaanse vertaling van die Bybel te skep, wat gepas sou wees vir publieke voorlesing en gebruik in eredienste, asook vir Sondagskool, Bybelstudie en persoonlike gebruik.

VIDEO: 90 jaar van die Bybel in Afrikaans

Tshivenda is ’n taal wat deur meer as 1,5 miljoen mense in Suid-Afrika asook in Zimbabwe gepraat word.

Die pioniervertaler van die Bybel in Tshivenda was sendeling en taalkundige, Dr PE Schwellnus van die Berlynse Sendinggenootskap. Hy het die eerste Tshivenda Bybel in 1936 voltooi.

Die jongste vertaling, ‘n maklik leesbare vertaling, is in 1998 voltooi. Dit is deur mnre

FC Raulinga en AR Mbuwe en prof JA van Rooy vertaal. Hulle is deur verskeie ander medewerkers en ‘n Hersieningskomitee bygestaan.

Siswati is die taal van die inwoners van Swaziland, maar ook die moedertaal van meer as 1,7 miljoen Suid-Afrikaners.

Die Evangelie volgens Markus is die eerste Bybelgedeelte in hierdie taal wat in 1976 deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika gepubliseer is. Die eerste volledige Bybel, wat deur mej H Eschen, mrs T Zwane (nee Maphalala) en mnr A Simelane vertaal is, is in 1996 gepubliseer.

Hierdie maklike leesbare vertaling word in beide Suid-Afrika en Eswatini gebruik.

IsiNdebele word deur meer as 1 miljoen individue in Suid-Afrika gepraat.

Die eerste Bybelboek wat in 1977 in IsiNdebele gepubliseer is, was die Evangelie volgens Markus. Die Nuwe Testament en ’n keur van Psalms het in 1986 verskyn. In 2012, is die volledige vertaling van die Bybel gepubliseer. IsiNdebele was toe die laaste van Suid-Afrika se 11 amptelike tale om ’n volledige Bybel te ontvang.