Blog Artikel, Nuus, Tuis

Die rol van Bybelvertaling in die stryd om kulturele oorlewing

Op 8 Mei 2025 het Suid-Afrikaners 100 jaar van Afrikaans as ’n amptelike taal gevier.

Dit is ’n merkwaardige mylpaal vir ’n taal wat aanvanklik as ’n kombuis- of straattaal beskou is. Een van die belangrikste faktore wat ’n groot rol gespeel het in die aanvaarding en ontwikkeling van Afrikaans, was die eerste Afrikaanse Bybelvertaling wat in 1933 gepubliseer is. Die Afrikaanse Bybel het nie net die Evangelie aan die sprekers van hierdie jong taal gebring nie, maar ook struktuur, waardigheid en literêre teenwoordigheid aan Afrikaans gegee.

Afrikaans is egter nie die enigste taal wat voordeel trek uit ’n eie Bybelvertaling nie. Regoor die wêreld – en ook hier in Suid-Afrika – speel Bybelvertaling steeds ʼn betekenisvolle rol in die bewaring van minderheidstale wat op die rand van uitsterwing staan.

Wanneer ’n taal verdwyn, verdwyn ’n unieke wêreldbeskouing, eeue se kulturele geheue, asook ’n lewende verbintenis tussen geslagte. Bybelvertalings bied meer as net geestelike voeding – dit skep ’n grondteks wat die taal in sy geskrewe vorm anker, moedig geletterdheid aan, en skep trots by gemeenskappe wat dikwels onder sosiale en kulturele druk verkeer om hul moedertaal agterweë te laat. Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika werk tans aan vier eerste vertalingsprojekte – in die !Xuhn, Khwedam, Khelovedu en TjiHlanganu tale –  waar die Bybel ’n sentrale rol speel in die versterking van hierdie taalgroepe se kultuur. Elke projek is daarop gemik om nie net hierdie minderheidstale te help oorleef nie, maar om dit te laat floreer. Hulle stories herinner ons daaraan dat wanneer ons in taal en in die Woord belê, ons ook help om die heilige draad van menslike diversiteit te bewaar.

!Xuhn

!Xuhn word deur ’n klein Khoisan-gemeenskap gepraat – afstammelinge van sommige van die wêreld se oudste kulture. Met sowat 50 000 sprekers, waarvan ongeveer 4 000 in die Noord-Kaap woon, staar die !Xuhn taal kulturele erosie in die gesig, aangesien jonger generasies verkies om eerder Afrikaans of Engels te praat. Deur die Bybel in !Xuhn te vertaal, help die Bybelgenootskap om nie net die geestelike inhoud van die Woord vas te lê nie, maar ook om ʼn ryk mondelinge tradisie deur die taal vir die eerste keer in ʼn gestandaardiseerde geskrewe formaat te anker.

Khwedam

Khwedam behoort aan die Khoe-Kwadi taalgroep en word deur die Khwe-gemeenskap gepraat wat verspreid is oor Suid-Afrika, Namibië, Angola en Botswana. Aangesien die aantal sprekers afneem, is daar vrees dat die taal kan verdwyn. In hierdie konteks dien die Bybelgenootskap se Bybelvertalingsprojek as ʼn noodsaaklike hulpmiddel. ʼn Bybel in Khwedam sal die Woord van God aan hierdie groep toeganklik maak en ook help om Khwedam se plek onder die tale van Suider-Afrika te bekragtig.

Khelovedu

Khelovedu word gesien as ’n Noord-Sotho dialek wat deur die Balobedu-mense – bekend vir die Modjadji Reënkoningin – in Limpopo gepraat word. Alhoewel dit ’n aansienlike getal sprekers het, was daar histories ʼn tekort aan geskrewe hulpbronne en word dit dikwels deur standaard Sepedi oorskadu. Die vertaling van die Bybel in Khelovedu spreek nie net geestelike behoeftes aan nie, maar bevestig ook die dialek se unieke identiteit. Dit bevorder die gebruik van Khelovedu in die onderwys, aanbidding en alledaagse gesprek.

TjiHlanganu

TjiHlanganu is ’n dialek van Xitsonga wat hoofsaaklik in Mosambiek en sekere dele van Suid-Afrika gepraat word. Alhoewel dit aan Xitsonga verwant is, het dit kenmerkende eienskappe wat onder druk van dominante tale dreig om verlore te gaan. Die Bybelgenootskap se Bybelvertalingprojek gee aan TjiHlanganu-sprekers ’n kragtige kultuurhulpbron, herbevestig die taal se waarde en help om trots op hul taalerfenis te bou.

Taalbewaring gaan nie slegs oor ’n taalerfenis nie, maar oor mense, identiteit en waardigheid. Wanneer ’n gemeenskap die Bybel in hulle eie taal ontvang, kry hulle meer as net toegang tot die Woord van God: dit is ’n herbevestiging van hulle plek in die wêreld. Wanneer ons Bybelvertaling in klein tale ondersteun, belê ons in die oorlewing van unieke wêreldbeskouings, stories en identiteite. Ons verseker dat die heilige tale van vandag nie in die toekoms sal stil word nie.


Leer meer oor of ondersteun ons huidige vertaalprojekte.

Koop bekostigbare Bybels aanlyn.

Lees die Bybel gratis aanlyn.

Laai ons gratis Bybel-apps af.