Nuus, Tuis

Los ’n nalatenskap van geloof

Jy het ’n leeftyd gewerk om ’n nalatenskap te bou.

Jy het daarna gestreef om mense te help en jou grootste vreugde was heel moontlik om die Evangelie met mense te deel – om hulle te vertel van God se offerwerk en sy seun Jesus, wat die grootste opoffering vir die ganse mensdom gemaak het.

Dalk wens jy dat jy met groter vrymoedigheid hierdie Goeie Nuus met ander kon deel.

Wens jy daar was meer tyd om meer te doen?

Jy het jou lewe lank die Bybel en die waardes gekoester wat jou daagliks gelei het – in tye van geluk, moeilikheid, onsekerheid, hartseer en wanhoop. Hoeveel keer het jy versigtig deur die bladsye van die Bybel geblaai en die tekste deursoek vir ’n bemoedigende woord van God of ’n brokkie wysheid wat kan help sin maak van die wêreld?

Die Woord van God was daar om jou te bemoedig, inspireer en te herinner aan jou plek en identiteit as ’n volgeling van Jesus, ongeag waar jy jou op die lewenspad bevind het.

Jy kon deurgaans getrou vashou aan God se liefde wat jou dra en sy Woord wat jou pad verlig het.

Jy het nou die geleentheid om te verseker dat jou nalatenskap steeds ’n rol kan speel om ander na God te lei deur die waarheid wat sy Woord, die Bybel, vir ons gee.

Wanneer jy ’n bemaking aan die Bybelgenootskap van Suid-Afrika maak, is dit nie slegs ’n donasie nie. Jy plant sade van geloof vir toekomstige geslagte. Elke Bybel wat deur jou bydrae in iemand se hand geplaas word, het die potensiaal om ’n oes van ’n honderdvoud vir die koninkryk van God te lewer.

Jou nalatenskap sal een van hoop, liefde, wysheid en ewige lewe wees wat mense regoor ons land sal aanraak.

Hoekom moet jy die Bybelgenootskap van Suid-Afrika in jou testament insluit?

Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika werk al vir meer as 200 jaar onverpoos om te verseker dat die Woord van God vir almal, ongeag hulle situasie, toeganklik is. Die missie is egter ver van klaar. Miljoene mense smag nog na die vertroosting en leiding wat slegs die Bybel kan bied.

Wanneer jy die Bybelgenootskap by jou testament insluit, verseker jy dat die Bybel mense bereik wat dit die nodigste het. Jou nalatenskap kan verligting bring waar armoede, wanhoop en isolasie heers.

Word deel van hierdie heilige bediening.

Om ’n bemaking aan die Bybelgenootskap van Suid-Afrika te maak in jou testament is maklik en impakvol. Ongeag die grootte van jou geskenk, dit sal ewigheidswaarde hê.