Afrikaans Amptelik 100 Jaar
Blog Artikel, Nuus, Tuis

Die Bybel in Afrikaans: Van gesproke taal tot geskrewe taal

Die verskyning van die eerste volledige Bybel in Afrikaans meer as 90 jaar gelede was ’n gebeurtenis waarvan die betekenis soveel verder gestrek het. Dit was ’n bevestiging van Afrikaans as ’n volwaardige en funksionele taal. Wie sou kon voorsien watter belangrike rol die Bybel in ons eie taal sou speel in die uitbouing en bevordering van Afrikaans.

Die ontstaan van Afrikaans

Die taal van die volksplanters was Nederlands. Dit het egter nie die enigste taal van die land gebly nie. Aan die begin van die negentiende eeu, het die tweede Europese taal, Engels, ’n voet op Suid-Afrikaanse bodem gekry. Dit het tot ’n taalkundige stryd tussen Nederlands en Engels gelei – veral in die kerke en skole.

In hierdie tyd het Afrikaans stadig maar seker begin ontwikkel as ’n nuwe, eie taal. In 1860 verskyn die eerste geskrewe voorbeelde van Afrikaans, maar dit was eers vanaf 1872 dat daar doelbewus gepleit is vir Afrikaans as skryftaal.

’n Afrikaanse Bybelvertaling: Die eerste pleidooie

Die idee van ’n Afrikaanse Bybel het reeds in 1872 begin toe Arnoldus Pannevis in De Zuid-Afrikaan gepleit het vir ’n Afrikaanse vertaling. In 1873 het CP Hoogenhout dieselfde gedoen en beklemtoon dat die ou Nederlandse Bybeltaal nie meer vir gewone mense verstaanbaar was nie.

Hoewel die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) aanvanklik gevoel het dat die tyd nog nie ryp was vir so ’n vertaling nie, het hulle in 1878 die idee formeel aanvaar. In 1879 word SJ du Toit, een van die leidende figure in die GRA, gevra om met die vertaling van die Bybel te begin – ’n taak wat hy met toewyding tot sy dood in 1911 aangepak het.

Du Toit het verskeie Bybelboeke direk uit Hebreeus en Grieks vertaal, maar sy pogings is nie altyd goed ontvang nie. Sy vertaling het gepoog om die Bybeltaal nader aan die alledaagse Afrikaans te bring – soos om “knopkiri” in plaas van “staf” in Psalm 23:4 te gebruik. Die kerke het egter meestal steeds die ou Nederlandse Statevertaling verkies.

Groeiende steun vir ’n Afrikaanse Bybel

In die vroeë 1900’s het steun vir ’n Bybel in Afrikaans gegroei. Gustav Preller, bekende skrywer en joernalis, het in 1905 die oortuiging uitgespreek dat ’n Afrikaanse Bybel die grootste dryfkrag vir die spreektaal sou wees. In 1912 verskyn die Afrikaanse Kinderbybel deur WJ Conradie. Toe Afrikaans twee jaar later amptelik in skole erken word, het dit vir die kerk al moeiliker geword om Afrikaans van die kansel af te ignoreer. Jongmense kon nie meer Nederlands verstaan nie en die behoefte aan ’n verstaanbare Bybel het ’n dringende realiteit geword.

Die kerke reageer

In 1916 het die Vrystaatse Sinode van die NG Kerk besluit om amptelik met ’n Afrikaanse vertaling te begin. Teen 1919 het verskeie ander kerke, insluitend die Gereformeerde en Hervormde Kerke, hul steun gegee.

1933-vertaling: ’n Mylpaal vir Afrikaans

’n Kommissie is saamgestel om die vertaling te koördineer, met verteenwoordigers van al drie susterskerke. Die vyf eindvertalers – JD du Toit (Totius) van die Gereformeerde Kerk, BB Keet van die NG Kerk, JD Kestell van die NG Kerk, HCM Fourie van die Hervormde Kerk en EE van Rooyen van die NG Kerk – het van 1926 af aan die groot taak gewerk.

Op 29 Mei 1933 vaar die Carnarvon Castle Tafelbaai Hawe binne met die eerste 10 000 eksemplare van die volledige Afrikaanse Bybel aan boord.

Hierdie publikasie was ’n enorme triomf – nie net vir die kerk nie, maar ook vir die Afrikaanse gemeenskap. Die feit dat Afrikaans net nege jaar tevore ’n amptelike taal geword het, het die gebeurtenis selfs meer merkwaardig gemaak. Die taal het nou die hoogste gesaghebbende teks tot sy beskikking gehad – die Woord van God.

1933/1953-hersiening

Afrikaans as skryftaal het na die verskyning van die Bybel in 1933 vinnig ontwikkel, veral wat spelling betref. ’n Hersiening van die vertaling het dus onvermydelik geword.

In 1934 is besluit dat JD du Toit die Ou Testament en BB Keet die Nuwe Testament sou hersien. Die hersiening, wat aanvanklik net ’n paar jaar sou duur, het uiteindelik 20 jaar geneem. Veelvuldige veranderings in spelling is aangebring en het meegebring dat die hele Bybel tot ses keer deurgewerk is.

Die hersiene uitgawe van die Bybel in Afrikaans verskyn in 1953.

1983-vertaling: Moderne Woord, moderne Afrikaans

’n Behoefte aan ’n verdere en grondiger hersiening van die Afrikaanse Bybel, waar die beste bronteks en die jongste ontdekkings in die veld van tekskritiek en Bybelnavorsing, gebruik word, is mettertyd geopper. ’n Kommissie van verteenwoordigers van die drie Afrikaanse Kerke is deur die Bybelgenootskap saamgestel. Hoewel die Kommissie gereeld vergader het, was die vordering stadig. Die oortuiging het al meer onder die hersieners posgevat dat die hersiening eintlik onmoontlik is en dat ’n nuwe vertaling oorweeg moet word.

In 1968, tydens ’n seminaar vir vertalers van die Afrikaanse Bybel en ander belangstellendes, word ’n eenparige besluit geneem om die Bybelgenootskap van Suid-Afrika te versoek om met ’n nuwe vertaling in Afrikaans te begin met die vertaalopdrag: “ … wat rekening hou met die ontwikkeling van Afrikaans in die afgelope tydvak en die resultate van wetenskaplike ondersoek, so getrou moontlik aan die grondteks; ’n waardige vertaling wat ons volk aanspreek binne en buite die kerk, in die erediens en huislike gebruik, in ons teenwoordige situasie en tyd.”

Na meer as ’n dekade se werk, is die 1983-vertaling op 2 Desember 1983 in Kaapstad bekendgestel.

Die Bybel vir Dowes

In 1997 het die Bybelgenootskap ’n unieke projek aangepak – ’n Afrikaanse Bybel wat spesiaal vir Dowes vertaal is. Die opdrag was om ’n Bybel vir Dowes uit die brontekste in eenvoudige, direkte Afrikaans te vertaal. Met hierdie vertalingsprojek is ’n nuwe terrein in die Afrikaanse vertaalkunde betree en was hierdie Bybel maar die tweede van sy soort in die wêreld. Dit het ook getuig van ’n breër visie om die Bybel vir almal toeganklik te maak.

Op 3 Februarie 2008 neem die Afrikaanse Dowegemeenskap Die Bybel vir Dowes in ontvangs.

Die 2020-vertaling: ’n Nuwe era

Op ’n vergadering van die Kerklike Advieskomitee wat in Oktober 2004 gehou is, is daar besluit om by die Bybelgenootskap aan te beveel om met ’n bronteks georiënteerde vertaling in Afrikaans te begin. By hierdie vergadering was 12 kerke wat die Afrikaanse Bybel gebruik teenwoordig.

In 2006 word daar begin met die volgende Afrikaanse Bybelvertaling met ’n vertaalopdrag wat soos volg geformuleer is: “Skep ’n goed verstaanbare bronteksgeoriënteerde Afrikaanse vertaling wat geskik is vir voorlesing en gebruik in eredienste, asook vir kategese, Bybelstudie en persoonlike gebruik.”

Dit word verder omskryf as ’n vertaling wat ’n getroue weergawe van die betekenis van die bronteks moet wees, terwyl beelde, metafore, styl en struktuur van die bronteks sover moontlik behou moet word. Die vertaling moet van hoë letterkundige gehalte en goed verstaanbaar wees.

Na sowat 15 jaar se werk deur meer as 170 medewerkers word Die Bybel: 2020-vertaling gepubliseer. Sowat 24 verskillende kerkgenootskappe was op een of ander manier by hierdie vertaling betrokke.

Afrikaans 100: ’n Gedenkjaar

Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika het nog altyd ’n sentrale rol gespeel in die beskikbaarstelling van die Bybel in Afrikaans. Toe die eerste Afrikaanse Bybel in 1933 verskyn het, was dit ’n groot oomblik – nie net vir gelowiges nie, maar ook vir die taal self.

Die jaar 2025 merk die viering van 100 jaar sedert Afrikaans amptelik erken is. Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika vier hierdie mylpaal met twee nuwe publikasies in Afrikaans: Die gewilde Die Bybel vir almal is weer beskikbaar in ’n nuwe formaat en met drie nuwe bindstyle, asook ’n heruitgawe van die oorspronklike 1933-vertaling – ’n spesiale geleentheid om weer die rykdom van die taal in sy vroegste vorm te ervaar. Hierdie spesiale uitgawe sal in die tweede helfte van 2025 beskikbaar wees.

Van gesproke omgangstaal tot geskrewe taal – deels danksy die Bybel wat generasies lank die hart van Afrikaanssprekendes is.


Koop die Bybel in Afrikaans aanlyn.

Ondersteun ons huidige Bybelvertalingsprojekte

Lees die Bybel gratis in 11 Suid-Afrikaanse tale