Blog Artikel, Nuus, Tuis

Van ʼn enkele Bybel tot ʼn leeftyd van bediening

Soms is dit iets eenvoudigs soos ʼn enkele Bybel en ʼn unieke ervaring wat die koers van iemand se lewenspad kan verander.

Die Bybel wat Gerhard Pietersen se toekoms help vorm het, was nie ʼn erfstuk of antieke Familiebybel op die rak nie. Dit was ʼn geskenk van sy oupa – ʼn Afrikaanse 1983-vertaling Bybel, wat aan elkeen van die kleinkinders gegee is.

Op 10-jarige ouderdom het Gehard die Jesus-filmop televisie gesien. Die kruisigingstoneel het hom diep geraak.

“Ek kon nie verstaan hoe so iets met enigiemand kon gebeur nie,” onthou hy.

Hy is na sy kamer toe en het dadelik die Evangelie van Matteus begin lees in die Bybel wat sy oupa vir hom gegee het. Die gedeelte oor die kruisiging was vir hom hartverskeurend. Jesus se beste vriende het hom verraai maar tog het hy hulle vergewe.

Hy is in trane na sy ma en het haar met vrae gepeper: “Wat is hierdie Jesus-storie? Hoekom het hulle Hom gekruisig? Wat het met Hom gebeur?”

“My ma het my hand gevat en ons het by my bed gekniel en gebid. Sy het vir God dankie gesê dat ek meer omtrent Jesus kon leer. Ons het toe die res van Matteus gelees, tot en met die opstanding,” onthou Gerhard met ʼn glimlag. “Ek glo dit was op daardie oomblik dat die Here my geroep het. Deur die Bybel het my ma my aan Jesus bekendgestel. Sedertdien wil ek dieselfde vir ander doen.”

Daardie roeping 40 jaar gelede het hom vandag na die Bybelgenootskap van Suid-Afrika gebring, waar hy op 1 Augustus 2026 amptelik die rol van Uitvoerende Hoof betree het.

ʼn Bediening van deur Afrika gevorm is

Gerhard se lewenspad in die bediening het reeds ver buite die mure van ʼn plaaslike gemeente gestrek.

Na sy bediening in Namibië, Mosselbaai en Kaapstad, het hy vir ʼn dekade lank as uitvoerende hoof gedien van Africa Inland Mission South Africa, ʼn evangelisasie-sendingagentskap wat in 20 Afrikalande werksaam is. Hierdie rol het vir hom deure regoor die kontinent oopgemaak waar hy eerstehands kon sien hoe die Kerk groei in plekke waarvan mense skaars gehoor het of waarvan hulle min weet.

Hy het met kerke in Oos- en Noord-Afrika en Madagaskar gewerk en gehelp met die mobilisering van sendelinge in Afrika, asook met die ondersteuning van gemeenskappe waar Christene geweldige uitdagings en vervolging in die gesig staar.

In die proses was daar een bediening wat sy hart diep geroer het: Bybelvertaling.

“Ek het gesien wat gebeur wanneer mense die Bybel in hulle eie taal ontvang,” vertel hy. “Geloof versprei soos ʼn veldbrand.”

Van gemeenskappe in Kenia tot klein taalgroepe in Madagaskar het Gerhard eerstehands gesien hoe die Woord van God geestelike transformasie en waardigheid teweegbring, asook kulturele identiteit help versterk.

Hierdie passie het die Bybelgenootskap van Suid-Afrika die natuurlike volgende stap in sy loopbaan gemaak.

Brûe bou

As jy vir Gerhard vra wat hom die meeste gevorm het, skuif die gesprek nie dadelik na leierskapkursusse of bestuur- en besigheidservaring nie. Hy praat oor mense.

As ʼn jong teologiestudent is hy geleer dat een denominasie oor die ganse teologiese waarheid beskik. Lewenservaring het egter spoedig daardie siening bevraagteken.

Tydens sy bediening in Namibië het sy vriendskappe met Katolieke priesters sy begrip van die Kerk heelwat verbreed.

Later het sy werk saam met leiers van Pinksterkerke, onafhanklike kerke in Afrika en ander Christene regoor die kontinent sy oortuiging bevestig: God se koninkryk is veel groter as enige enkele tradisie of denominasie.

“Die Bybelgenootskap beklee ʼn unieke plek omdat dit die hele Kerk bedien,” sê hy. “Dit is iets waarvoor ek groot agting het.”

Hoop deur swaarkry

Nie elke hoofstuk van Gerhard se storie was maklik nie.

In 2016 is sy skoonouers op hulle plaas in Groot-Brakrivier vermoor. Die tragedie het die fondamente van sy geloof geskud en te midde van die rouproses moes hy met woede en moeilike vrae worstel.

Genesing het geleidelik plaasgevind.

Dit het berading, skryf en gesprekke met kollegas van verskillende kulture ingesluit. Maar bowenal moes hy weer leer hoe vergifnis lyk.

Daardie ervaringe het gehelp om hom te vorm in die leier wat hy hoop om te wees.

“Ek weet baie Suid-Afrikaners dra diep wonde,” erken hy. “Lyding het my geleer om met deernis te lei.”

Die pad vorentoe

Gerhard neem die leisels oor in ʼn tyd waarin die Bybelgenootskap voortgaan met sy missie om Bybels en Bybelgedeeltes te vertaal, te publiseer en te versprei, terwyl dit ook kerke help om by ʼn wêreld aan te pas wat teen ʼn vinnige pas verander.

Hy is opgewonde oor al die geleenthede wat daar by die Bybelgenootskap is, soos eerste Bybelvertalingsprojekte, geletterdheidsprogramme en inisiatiewe vir digitale Bybelmateriaal om die nuwe generasie te bereik.

Maar selfs met al hierdie ontwikkeling glo hy daar is een ding wat konstant bly.

“Die Bybel is baie persoonlik,” sê hy. “Hetsy iemand dit op papier of op ʼn skerm lees, ons is geroep om hulle te help om God te leer ken deur sy Woord.”

Saai vir die toekoms

Gerhard se Bybelvers vir hierdie seisoen is Jakobus 3:18: “En die vrug van geregtigheid word in vrede gesaai vir hulle wat vrede maak.” (2020-vertaling)

“Ek kom terug na hierdie prentjie van die saaier,” sê hy met ʼn glimlag terwyl hy met sy vinger oor die Bybelgenootskap se embleem op die Bybel langs hom beweeg. “Die grond mag dalk verander, maar die roeping bly dieselfde. Ons word steeds geroep om getrou te saai.” Dit is ʼn gepaste prentjie vir die Bybelgenootskap – asook vir ʼn jong seun wat soveel jare gelede die mooiste storie ooit kon hoor, danksy ʼn Bybel en sy ma wat die Woord met hom gedeel het.


Ondersteun ons huidige Bybelvertalingsprojekte

Koop bekostigbare Bybels in jou taal aanlyn

Lees die Bybel gratis in 11 Suid-Afrikaanse tale