Hemelvaart en Pinkster
Gebaseer op ’n preek deur Dr Quintus Heine
Daar is nooit ’n vervelige oomblik in Suid-Afrika nie! Dit het amper ’n nasionale slagspreuk geword en die afgelope tyd blyk dit meer waar te wees as ooit.
Van wêreldopskrifte, soos president Cyril Ramaphosa se interaksie met president Donald Trump, tot hewige debatte oor die nasionale begroting en ekonomiese toekoms, het die afgelope paar weke baie Suid-Afrikaners, insluitend gelowiges, redelik ontstig.
Dit is nie maklik om tans ’n Christen in Suid-Afrika te wees nie. Ons kyk, wag en wonder dikwels: Wat gaan volgende gebeur? Wat gaan van ons ekonomie word? Ons belasting? Ons voortbestaan?
Op grondvlak kan dinge onseker, selfs skrikwekkend, voel. Maar as Christene word ons nie sonder hoop gelaat nie.
Ons vier vandag Hemelvaartdag en binnekort Pinkstersondag. Dit gee ons weer ’n geleentheid om ons blik te verskuif van die choas rondom ons en ons oë na die hemel te rig. Om weer herinner te word aan die ewige waarhede wat alles wat om ons gebeur, in ’n nuwe lig stel.
’n Lewende hoop gewortel in die Hemelvaart
In 1 Petrus 1:3-5 herinner die apostel ons aan ’n lewende hoop – ’n hoop wat nie gewortel is in wensdenkery of naïewe optimisme nie, maar eerder ’n onwrikbare hoop gegrond in wat Jesus reeds gedoen het en waar hy nou is.
Die opstanding bewys dat die dood oorwin is. Die Hemelvaart openbaar egter waarheen daardie oorwinning uiteindelik lei. Jesus het nie net opgestaan nie, hy het opgevaar na die regterhand van die Vader, op die troon in heerlikheid. Hy het nie net die aarde verlaat nie, maar Hy het die hemel binnegegaan as ons hoëpriester, ons advokaat en koning. Dit verander alles.
Die Hemelvaart bevestig ons nuwe lewe in Christus
Petrus begin sy brief met lofprysing en erken dat hierdie lewende hoop nie uit menslike inspanning voortgebring is nie: “Dit is Hy wat ons in sy groot ontferming … opnuut verwek het …” (1 Petrus 1:3).
Alhoewel die opstanding ons wedergeboorte beklink, is hierdie hoop verseël in die Hemelvaart. Christus se terugkeer na heerlikheid is God se stempel van goedkeuring dat Jesus se aardse sending voltooi was. Niks kan dit ongedaan maak nie. En omdat Jesus regeer, kan ons met die diepe versekering leef dat ons nuwe lewe in Hom werklik en ewig is.
Die Hemelvaart gee ons ’n lewende, heersende hoop
Ons hoop leef, nie net omdat Jesus lewe nie, maar omdat Hy heers.
Wanneer ons moeg, moedeloos of verlore voel, bid ons nie tot ’n verre verlosser nie. Ons roep die opgestane en opgevaarde Here aan wat ons menslike stryd ken, vir ons intree en vir ons ’n plek voorberei.
Die Hemelvaart leer ons dat die stryd van hierdie wêreld nie die einde van die verhaal is nie. Ons hoop is nie in ’n graf begrawe of sweef in die wolke nie – dit is geanker in die hemel, waar Christus is. Omdat Hy op die troon is, hoef ons nie meer politieke teater, misdaad of gebroke stelsels te vrees nie. Ons fokus is op Christus, nie die onstabiliteit van hierdie wêreld nie.
Die Hemelvaart herinner ons aan ons hemelse erfenis
Petrus sê ons het ’n onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis, wat vir ons in die hemel bewaar word. Dit is nie poëtiese taal nie maar staan in sterk kontras met die verval, korrupsie en onsekerheid wat ons rondom ons sien.
Elke oggend, wanneer ons wakker word met nuus wat ons ontstel, kan ons vasklou aan die wete dat ons erfenis in die hemel deur Christus self bewaar word. Geen politikus, kriminele of wêreldwye krisis kan die vreugde steel wat vir ons verseker is nie.
Die opgevaarde Christus hou ons erfdeel. Hy is nie ver nie; hy regeer, berei vir ons ’n plek voor en vorm ons vir daardie plek.
Hemelvaart gaan nie oor afwesigheid nie, dit gaan oor gesag
Die Hemelvaart beteken nie dat Christus ons verlaat het nie. Dit beteken Hy het sy regmatige plek op die troon ingeneem.
En omdat Hy op die troon is, is ons nie hopeloos nie. Ons is erfgename van ’n lewende hoop!
Met die aanbreek van Pinkster, onthou ons hoe die Heilige Gees op die dissipels uitgestort is, wat hulle bemagtig het om ’n gebroke wêreld met moed, oortuiging en vrymoedigheid tegemoet te gaan. Laat ons dus, in hierdie onseker tye, ons oë op Christus gerig hou. Christus het opgestaan. Christus regeer! En daarom kan ons wat ook al oor ons pad kom, met hoop en sonder vrees oorkom.
Ondersteun ons huidige Bybelvertalingsprojekte
Lees die Bybel gratis in 11 Suid-Afrikaanse tale
Koop bekostigbare Bybels in jou taal aanlyn