Hoekom geletterdheid belangrik is vir die toekoms van Suid-Afrika
Die Future Leaders-program help kinders om die vreugde van lees te ontdek en hoop in die Woord van God te vind.
Elke kind verdien die kans om met selfvertroue te kan lees.
Lees kan ’n kind se lewe verander. Die ontsluit die deur na leer, bou selfvertroue en skep geleenthede vir ’n beter toekoms.
Tog is daar miljoene Suid-Afrikaanse kinders wat nooit hierdie kans kry nie.
Met die voltooiing van graad 4 is daar sowat 82% van leerders wat nog nie met begrip kan lees nie. Hulle herken die woorde op die bladsy, maar sukkel om die betekenis te verstaan. Wanneer hierdie leemte ontstaan, bemoeilik dit elke leergebied en word onderrig in die geheel ’n uitdaging.
Hierdie probleem is selfs groter in gemeenskappe waar hulpbronne, soos boeke, skaars is en opvoedkundige ondersteuning beperk is.
Wanner ’n kind sukkel om te lees, is dit moeilik om op skool tred te hou. Hulle selfvertroue word geknou en toekomstige loopbaankeuses word beperk. Hierdie agterstand kan kinders tot in volwassenheid beïnvloed.
Lees bepaal meer as net skooluitslae
Lees help kinders om vrae te vra, probleme op te los en om die wêreld rondom hulle te verstaan.
Vir Christingesinne maak lees dit ook moontlik om die Bybel self te ontdek.
Wanneer kinders self die Bybel kan lees, kan hulle begin om God se liefde, wysheid en beloftes te ontdek. Ouderdomgepaste hulpmiddels help hulle om ’n verhouding met die Bybel te bou op maniere wat hulle verstaan. Dit maak die Woord van God iets waarna hulle vir die res van hul lewe kan terugkeer.
Ontwikkel vir Suid-Afrikaanse kinders
Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika het die Future Leaders-program ontwikkel om kinders te help om hulle leesvaardighede te verbeter en bybelse waardes aan te leer.
Die program verskaf ouderdomgepaste hulpmiddels vir graad R- tot graad 7-leerders. Elke boek is spesifiek gekies om leesvaardighede te versterk en om waardes soos deernis, integriteit, volharding en hoop aan te moedig.
Jonger kinders ontvang interaktiewe Bybelgeletterdheidsmateriaal wat lees pret maak. Ouer leerders ontvang Bybelgebaseerde materiaal wat die vrae en uitdagings aanspreek waarmee hulle gedurende puberteit gekonfronteer word.
Die doel is eenvoudig: om kinders te help om beter te lees en geestelik te groei.
Werklike kinders. Werklike impak
Die Future Leaders-program is reeds besig om ’n positiewe impak te maak.
Toe die program in April in KwaZulu-Natal, in samewerking met Phakama Africa Community Projects, bekendgestel is, het bykans 10 000 leerders Bybelgebaseerde geletterdheidsmateriaal ontvang. Onderwysers het beter klasdeelname onder leerders ervaar, asook groter gretigheid vir lees en meer betrokkenheid met die bybelse teks in leerders se huistaal.
Die kinders het ook die verandering opgemerk.
Een graad 7-leerder het gesê:
“Ek voel vry wanneer ek hierdie Reach4Life boek lees. Dit sal my help om besluite te neem wat tot ’n suksesvolle lewe lei. Ek gaan die instruksies in hierdie boek volg sodat ek suksesvol kan wees.”
’n Ander leerderhet die volgende gedeel:
“Ons het nie Bybels by die huis nie, daarom kan ons dit nie lees nie. Hierdie boek sal my leer om mense lief te hê en hulle te respekteer. Dit leer my om nie verkeerde dinge te doen nie en om God te aanbid.”
Onderwysers het ook ervaar hoe waardevol hierdie hulpmiddels in die klaskamer is.
Een graad 5-onderwyser sê:
“Die gebrek aan hulpmiddels is ʼn groot uitdaging, maar hierdie boeke gaan ons baie help. Dit sal ’n positiewe impak op hulle leesvermoë en hul kennis van die Bybel hê.”
’n Belegging in die toekoms
Die naam Future Leaders weerspieël wat die program se beoogde doel is.
Die kinders wat vandag leer, is môre se onderwysers, verpleegkundiges, ouers, leraars en gemeenskapsleiers.
Om ’n kind te help lees, is ’n belegging in Suid-Afrika se toekoms. Sterk lesers help om sterk gesinne, kerke en gemeenskappe te bou.
Elke kind wat God se Woord ontdek, dra daardie hoop saam met hom of haar lank nadat hulle die klaskamer verlaat het.
Hoe jy kan help
Die Bybelgenootskap beplan om die Future Leaders-program uit te brei sodat 20 000 leerders uit gemeenskappe regoor Suid-Afrika elke jaar hierdie hulpmiddels kan ontvang.
Slegs R45 help om ouderdomgepaste geletterdheidsmateriaal aan een kind beskikbaar te stel, materiaal wat leesvaardighede ontwikkel en kinders aan God se Woord bekendstel.
Jy kan ’n kind borg, ’n skool ondersteun of bid vir die landwye sukses van hierdie program. Elke bydrae help nog ’n kind om te leer lees, in geloof te groei en sy of haar toekoms met selfvertroue tegemoet te gaan.
Koop bekostigbare Bybels in jou taal aanlyn
Lees die Bybel gratis in 11 Suid-Afrikaanse tale