Die reg op hoop
Elke Menseregtedag herdenk Suid-Afrikaners die stryd om waardigheid, gelykheid en vryheid. Hierdie regte beskerm ons vermoë om te leef, te werk en ten volle deel te vorm van die samelewing. Maar daar is nog ‘n menslike behoefte wat selde in hierdie gesprekke bespreek word.
Die behoefte aan hoop.
Want sonder hoop kan selfs vryheid leeg voel.
Die onuitgesproke menslike behoefte
Besprekings oor Menseregte fokus dikwels op basiese behoeftes soos behuising, onderwys en gesondheidsorg. Hoewel hierdie almal noodsaaklik is, is mense nie net fisies nie, maar ook emosioneel en geestelik.
Ons moet ’n doel hê. Ons moet betekenis hê. Ons moet hoop hê.
Elke dag staar miljoene mense in Suid-Afrika uitdagings in die gesig soos armoede, werkloosheid, geweld, trauma, gebroke gesinne en eensaamheid. In hierdie omstandighede word hoop meer as net ’n gevoel, dit word ’n reddingstou.
Vir baie mense begin daardie hoop met die Bybel.
Hoop in ’n klein boekie
Op 78-jarige ouderdom stap Marietjie Bowers nog steeds deur die strate en deel hoop uit, een gesprek op ’n slag.
As ’n oorlewende van die aanval op die St James Kerk in 1993, dra sy steeds ’n fisiese herinnering van ‘n koeëlwond. Maar Marietjie dra ook iets anders; ’n onwrikbare roeping om die hoop wat in die Evangelie gevind word, te deel.
Sy bestee baie van haar dae deur Brood van die Lewe boekies, wat die Evangelie van Johannes bevat, te versprei. Hierdie boekies is maklik om te verstaan, maklik om saam te dra en maklik om te deel. Maar bevat ’n kragtige boodskap.
Wanneer Marietjie iemand ontmoet, knoop sy ’n gesprek aan en bied vir hulle ’n boekie aan. Soms is dit net ’n kort geselsie, maar ander kere is dit ’n diep bespreking oor die lewe, pyn en geloof.
Haar motivering is eenvoudig:
“Ek is nog hier omdat God nog werk het vir my om te doen.”
Marietjie is diep bewus van hoe kosbaar die lewe is en nog meer so, die ewige lewe. Die hoop wat sy in die versoeningswerke van Christus het, is wat haar dryf om die Goeie Nuus met ander te deel. Mense het ’n dringende behoefte aan hoop.
Maak hoop toeganklik vir almal
Dit is presies waarom die Bybelgenootskap van Suid-Afrika bestaan, om die boodskap van hoop in die Bybel vir almal toeganklik te maak, ongeag hulle finansiële situasie, taal of lewensomstandighede.
Danksy die vrygewigheid van donateurs, kan die Bybelgenootskap:
- Bybels versprei aan diegene wat dit nie kan bekostig nie
- Bybels in hartstale vertaal
- Oudiobybels voorsien aan diegene wat nie kan lees nie
- Digitale Bybels gratis beskikbaar stel
Trouens, die Bybelgenootskap se digitale platforms en apps het reeds honderde duisende mense in staat gestel om die Bybel in hulle eie taal te lees. Dit help om te verseker dat toegang tot die Bybel nie deur geografie of inkomste beperk word nie.
Want hoop moet nooit ’n voorreg wees nie.
Die Bybel meer as net ’n boek
Vir iemand met middele is ’n Bybel maklik bekombaar. Maar vir iemand wat sukkel om te oorleef, kan dit buite bereik wees.
Daarom is die Bybelgenootskap se spesiale verspreidingsprojekte so waardevol is. Hierdie inisiatiewe verseker dat mense wat nie ’n Bybel kan bekostig nie, steeds toegang kan hê tot een. So kan hulle ook die vertroosting, leiding en geestelike bemoediging ontvang wat die Bybel bied, veral in moeilike omstandighede.
Soms is die impak onmiddellik. ’n Jong persoon vind rigting. ’n Gevangene ontdek vergifnis. ’n Persoon wat rou, vind vertroosting. ’n Soekende hart vind ’n doel. In elke geval is hoop ’n bykomende gawe.
Hoop is deel van menswaardigheid
Menswaardigheid gaan nie net oor wat mense het nie, maar ook oor wat mense glo omtrent hulleself.
Wanneer mense die Bybel lees en God in sy eie woorde hoor sê wie hulle in Jesus Christus is – hoe kosbaar, waardig en bekwaam hulle is – word hulle lewens verander. Dit is dikwels waar die Bybel ’n belangrike rol speel, deur mense te help om hulleself en hul lewens anders te sien.
Daarom kan toegang tot die Bybel so ’n belangrike rol speel in die herstel van menswaardigheid. Nie om ander menseregte te vervang nie, maar om die menslike gees te versterk wat binne daardie regte moet leef.
Hoe jy kan help om hoop te gee
Baie van ons donateurs ontmoet nooit die mense wie se lewens hulle raak nie. Hulle sal nooit die name ken van die kinders, gevangenes of sukkelende gesinne wat die Bybels ontvang wat hulle befonds het nie. Tog is hulle deel van daardie verhale.
Elke donasie help om te verseker dat iemand anders hoop kan ontvang in ’n vorm van ’n Bybel wat hulle kan verstaan, in hulle eie taal, binne hulle eie omstandighede.
Sommige mag vra: ‘Watter verskil maak een Bybel werklik?’
Die antwoord is eenvoudig: Soms verander dit alles.
Jou uitnodiging hierdie Menseregtedag
Menseregtedag herinner ons daaraan dat menswaardigheid beskerm moet word. Bo alles is ons mense, geskape na die beeld van God. In ons strewe om meer soos Christus te wees, streef ons geredelik na goddelike deugde soos deernis, vrygewigheid, respek en geregtigheid, wat help om die regte en waardigheid van ons medemens te beskerm.
Jy kan help om hierdie waardes in ons gemeenskap te vestig.
Jy kan help om te verseker dat hoop toeganklik bly vir diegene wat dit die nodigste het.
Jy kan help om die Bybel in die hande te plaas van iemand wat na betekenis soek.
Jy kan help dat iemand soos Marietjie haar werk kan voortsit om hoop op die strate te deel.
Want menswaardigheid is nie net oor regte nie, dit gaan ook oor hoop.
En soms begin hoop met iets so eenvoudig soos ‘n Bybel.
Help om vandag hoop te bring
Jy kan hierdie Menseregtedag ’n verskil maak deur die volgende:
- Skenk R115 en voorsien iemand in nood van ’n Bybel
- Sluit aan by die Bybel-per-Maand Klub
- Ondersteun ons Bybelvertalingsprojekte
- Help om digitale Bybels meer toeganklik te maak
Jou ondersteuning help om te verseker dat niemand uitgesluit word van toegang tot die lewegewende boodskap van die Bybel nie.
Want elkeen verdien waardigheid. En elkeen verdien hoop.
Wees ’n saaier van hoop.