Blog Artikel, Nuus, Tuis

God se Woord spreek in die stilte

Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika het verlede jaar die taak aangepak om gespesialiseerde Bybels meer vrylik aan die dowe gemeenskap in die land beskikbaar te stel.

So is Die Woord binne die Stilte-veldtog gebore. Die Bybelgenootskap het hierdie veldtog in September – wat ook Dowebewustheidsmaand is – van stapel gestuur met die doel om R100 000 in te samel. Dit sou die verspreiding van 500 van hierdie Bybels verseker aan skole, kerke en organisasies wat die dowe gemeenskap bedien.

Die ondersteuning van donateurs was oorweldigend positief en na die twee maande lange veldtog is R135 000 vir hierdie inisiatief ingesamel. Een donateur het ruimhartig R60 000 bygedra.

Op 20 April 2026 is die eerste 23 Bybels van die 560 wat deur die veldtog befonds is, aan leerders van die De La Bat Skool vir Dowes in Worcester oorhandig.

Tydens die weeklikse saalbyeenkoms het Chanette Dreyer, ’n oudioloog by die skool, aan die kinders verduidelik waarom die Bybelgenootskap die skool besoek het.

“Elke jaar gee ons ʼn Bybel vir elke graad 7-leerder, maar ons het agtergeraak. So vandag gee ons Bybels vir leerders in grade 7, 8, 9, 12 en ook vir ’n paar leerders in ons beroepsafdeling.”

Ds Christo Kloppers het die gehoor ingelig oor die werk wat Bybelgenootskap, insluitend die groot aantal tale wêreldwyd wat steeds wag op ’n Bybelvertaling.

“Dit is vir ons lekker om hierdie Bybels met julle te kom deel. Dit is vir ons ’n hartsaak en ons is so dankbaar dat julle ons uitgenooi het om dit te kom doen,” het hy gesê, voordat hy die Bybels, elkeen met ’n persoonlike boodskap in, aan die leerders oorhandig het.

Die skoolhoof, Hilda Louw, het die kinders aangemoedig om gebruik te maak van die Bybels wat hulle ontvang het.

“Ek dink nie ons kinders besef die belegging wat u nou in hulle lewens gemaak het nie. Ons is u ewig dankbaar en ons bid regtigwaar dat die werk sal voortgaan en dat al daardie tale met die Woord van die Here bedien kan word,” het sy gesê.

Sy het bygevoeg dat die Bybel gerespekteer moet word en dat dit van geen nut is as dit nie gelees word nie.

“Ons respekteer die Bybel deur dit te lees en deur dit as ons waardevolste besitting te behandel. Dit is die Woord van God. Baie van julle wat doof is, sal bang wees om dit te lees, want julle dink jul sal dit nie verstaan nie. Maar dan vra jy die koshuismoeder, of jou onderwyser of vir ds Bettie daar by die kerk of vir enigeen van ons om jou te help om te verstaan wat hierin staan. Glo dit of nie, maar soms lees ons grootmense en ons verstaan ook nie. Maar as ons bid en vir Jesus vra om dit vir ons te verduidelik, sal Hy dit vir ons verduidelik,” het sy die kinders bemoedig.

Een van die leerders wat ’n Bybel ontvang het, was Jade Cloete, ’n graad 12-leerder.

“Ek het vandag hierdie Bybel ontvang. Ek hou van lees en hierdie Bybel sal my motiveer om deur die verskillende boeke te lees. Die Bybel help my om myself beter te leer ken,” het hy gesê.

Nog ’n leerder, Ainsley Jacobs, het beklemtoon hoe belangrik die Bybel in sy lewe is. “Dit bevat baie woorde waarvan ek meer kan leer. My gunsteling Bybelgedeelte is Psalm 23.”

Toegang tot die Bybel vir almal

Deur die Bybel in verskillende formate beskikbaar te stel, soos braille, oudio en digitaal, help die Bybelgenootskap om God se Woord met diegene te deel wat sukkel om die Bybel in sy gedrukte vorm te lees.

Die dowe gemeenskap in Suid-Afrika is een so ’n groep wat hulp benodig met die uitdagings van Bybelbekostigbaarheid en -toeganklikheid. Navorsing toon dat die meeste dowe volwassenes wat gebaretaal gebruik om te kommunikeer, swak geletterdheidsvaardighede het. In Suid-Afrika is slegs een uit elke drie dowe volwassenes wat Suid-Afrikaanse Gebaretaal gebruik funksioneel geletterd, terwyl die gemiddelde dowe skoolverlater ’n begrip van geskrewe taal het wat gelykstaande is aan dié van ’n horende agtjarige kind.

Beperkte toegang tot gespesialiseerde onderwys beteken dat meer as 60% van dowe Suid-Afrikaners werkloos is. Diegene wat wel werk het, verdien dikwels ’n laer inkomste as hul niegestremde eweknieë.

In die lig hiervan is dit duidelik dat ’n ander benadering tot Bybelvertaling nodig is om Dowes te help om die Bybel beter te verstaan.

Bybels vir Dowes

In 2006 het dr Rocco Hough, ’n predikant van die De La Bat gemeente vir Dowes in Bellville, die Bybelgenootskap genader met die versoek vir ’n Bybelvertaling wat spesifiek op Afrikaanssprekende Dowes gerig is.

Die Bybelgenootskap het die behoefte aan so ’n Bybel erken en werk aan die vertalingsprojek het in 2011 begin.

Die vertaling gebruik eenvoudige Afrikaanse woordeskat en sinskonstruksie, wat die beperkte woordeskat van die Dowes in ag neem. Dit bevat ook duisende voetnote wat woorde en konsepte verduidelik en interessante agtergrondinligting oor die teks verskaf. Tesame met ’n uitgebreide woordelys, kaarte en illustrasies, dra dit die bybelse boodskap baie duideliker oor as baie gevestigde vertalings.

In 2008 is Die Bybel vir Dowes gepubliseer. Die Bybel is hartlik deur die Afrikaanse dowe gemeenskap ontvang en het ook ’n tuiste onder horende individue gevind wat die maklike leesbaarheid van die vertaling geniet het. Dit het daartoe gelei dat dié vertaling later, onder die titel, Die Bybel vir almal, herdruk is.

’n Groep kerkleiers van regoor Afrika, het dr Hough genader, met ’n versoek vir ’n soortgelyke vertaling vir Engelsprekende dowes. The Bible for the Deaf was ʼn selfs meer omvangryke projek, met duisende voetnote en meer uitgebreide illustrasies. Die Bybel is amptelik in 2019 in die St George’s Katedraal bekendgestel.