God se hart vir elke taal
Op 21 Februarie is dit Internasionale Moedertaaldag. Dit is ʼn geleentheid om taalkundige diversiteit te vier, maar dit herinner ons ook daaraan dat moedertale beskerm en bewaar moet word.
In Suid-Afrika is dit veral van besondere belang.
Ons woon in ’n land met 12 amptelike tale, veelvoudige dialekte en verskeie variëteite van gemeenskapstale. In Suid-Afrika gaan taal oor veel meer as blote kommunikasie. Taal is identiteit, herinnering en behorendheid. Dit is die manier waarop ‘n ouma bid, of hoe ’n ma koester, en die manier waarop ’n kind leer hoe liefde klink.
Terwyl die Verenigde Nasies vandag die belangrikheid van moedertale uitlig, maak die Bybel dit duidelik dat God nog altyd waarde aan tale geheg het.
Van Babel tot Pinkster: taal in God se storie
In Genesis 11 kom die mensdom byeen om die Toring van Babel te bou. Hulle word verenig deur ’n enkele taal en het een doel voor oë: om ’n naam vir hulleself te maak. God reageer deur hulle spraak en taalbegrip te verwar en hulle regoor die wêreld te verstrooi.
Die gevolg is verdeeldheid, verbrokkeling en onbegrip.
Taal word ’n struikelblok.
Maar selfs hier sien ons genade. God beperk menslike trots en beskerm sodoende diversiteit. Die verstrooiing van tale is nie die einde van die verhaal nie, maar die begin van ’n verlossingsreis wat regdeur die hele Bybel strek.
Kom ons beweeg na Handelinge 2
Op die dag van Pinkster daal die Heilige Gees op die dissipels neer en iets besonders vind plaas. Die dissipels praat en die skare luister – elkeen hoor die wonders van God in sy eie taal.
“… ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God praat.” Handelinge 2:11 (2020-vertaling)
Dit is een van die kragtigste taalverwante oomblikke in die Bybel. Die wonderwerk is nie dat almal skielik weer een taal praat nie; die wonderwerk is dat die Evangelie gelyktydig in verskeie verskillende tale gehoor word.
God wis nie taalkundige diversiteit uit nie. Hy eer dit.
Pinkster onthul iets diep oor God se hart: Hy ontmoet mense waar hulle is en in die taal wat hulle verstaan. Die Evangelie word nie in ’n enkele oorheersende taal verkondig nie. Dit word verkondig in die uiteenlopende hartstale van die mense wat daar vergader het.
Taal, wat eens ’n simbool van verdeeldheid by Babel was, word nou met Pinkster die weg tot genade.
’n Visie vir elke taal
Die Bybel eindig met ’n asemrowende visioen: “Hierna het ek gesien, en kyk, daar was ’n baie groot skare, wat niemand kon tel nie. Hulle was afkomstig uit elke nasie en stam en volk en taal, en het voor die troon gestaan …” Openbaring 7:9 (2020-vertaling)
Van Genesis tot Openbaring is die trajek duidelik.
God se plan sluit elke taal in!
Hoekom moedertale saak maak
Elkeen wat meer as een taal praat, weet: hoewel jy ’n tweede taal verstaan, beleef jy jou eerste taal.
Jou moedertaal is die taal van jou hart. Dit vorm hoe jy dink, hoe jy droom en hoe jy bid. Dit dra kulturele nuanse, emosie en betekenis wat eenvoudig nie ten volle deur ’n vertaling vasgevang kan word nie, tensy dit met groot sorg, vaardigheid en diep respek gedoen word.
Wanneer iemand die Bybel in sy of haar eie taal lees, gebeur daar iets. Die Woord van God verskuif van slegs eksterne kennis na iets wat diep persoonlik is. Dit kom nader, word duideliker en meer lewendig.
Dit is hoekom Bybelvertaling nie net akademiese werk is nie.
Dit is pastorale werk.
Dit is sendingwerk.
Dit is koninkrykswerk.
Inheemse taalontwikkeling en -bewaring is nie opsioneel nie
Internasionale Moedertaaldag dwing ons om ook ’n ongemaklike waarheid in die gesig te staar: tale oorleef nie per ongeluk nie.
Baie inheemse tale, insluitende dié wat in Suid-Afrika gepraat word, is onder druk. Baie verloor stadig maar seker hul plek in huise, skole en die publieke lewe. Ander word minder deur die jonger geslagte gebruik, nie omdat hulle minder waardevol is nie, maar omdat stelsels hulle nie die nodige eer gegee het om ’n gelyke stem in Suid-Afrika te hê nie.
Dit is hoekom inheemse taalontwikkeling en -bewaring so belangrik is.
Sodra ’n taal verswak, is dit meer as net woorde wat verlore gaan. Stories gaan verlore, wysheid gaan verlore, identiteit word afgebreek en gemeenskappe verloor iets wat heilig is.
Vir Christene is daar boonop nóg ‘n dimensie: mense verdien dit om God te hoor in die taal waarin hulle tuis voel.
Die rol van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA)
Dit is die BSA se taak om te verseker dat mense toegang het tot die Bybel in tale wat hulle verstaan, in gedrukte, oudio- en digitale formate en teen pryse wat hulle kan bekostig.
In ’n veeltalige land soos ons sʼn is hierdie werk nie opsioneel nie, maar noodsaaklik.
Hetsy dit die vertaling van die Woord in ’n taal is wat voorheen oor die hoof gesien is, of die hersiening van ’n ouer vertaling om dit duideliker en meer relevant vir ’n jonger geslag te maak, of om te verseker dat bekostigbare Bybels skole en gemeenskappe bereik – hierdie werk is ’n integrale deel van God se verlossingsverhaal van Babel tot Pinkster.
Elke vertaling weerklink die boodskap van Pinkster. Elke Bybel wat in ’n hartstaal gedruk word, bevestig menslike waardigheid. Elke kopie wat versprei word, verkondig: “Jou taal is vir God belangrik.”
’n Viering en verantwoordelikheid
Internasionale Moedertaaldag maak ons bedag daarop dat taalbewaring oor veel meer as kultuur gaan. Dit gaan oor waardigheid, toegang en die reg om ten volle verstaan te word. Vir Christene gaan dit ook oor dissipelskap.
As geloof deur die aanhoor kom (Romeine 10:17), moet die aanhoor plaasvind in ’n taal wat mense werklik kan verstaan en waarmee hulle gemaklik is, nie net ’n taal waarmee hulle oor die weg kan kom nie.
Terwyl ons hierdie Februarie taalkundige diversiteit vier, verbind ons onsself opnuut tot die visie van Openbaring 7 – ’n toekoms waar elke stam en elke taal voor die troon staan en die Lam van God aanbid.
Hierdie visie begin nou.
Dit begin in die klaskamers, kerke, tuistes en gemeenskappe regoor Suid-Afrika, met die voortgaande vertaling, publikasie en verspreiding van God se Woord.
Van Babel se verwarring tot Pinkster se duidelikheid tot die hemelse koor – God het nog nooit ’n enkele taal vergeet nie.
Ons moet ook nie.
Goeie nuus vir almal vir altyd.
Ondersteun ons huidige Bybelvertalingsprojekte
Koop bekostigbare Bybels in jou taal aanlyn
Lees die Bybel gratis in 11 Suid-Afrikaanse tale