Bybelgenootskap eer 1933-vertaling in Afrikaans se eeufeesjaar
Eenhonderd jaar gelede het Afrikaans amptelik erkenning as ’n volwaardige taal ontvang. Minder as ’n dekade later, op 27 Augustus 1933, is nog ’n belangrike mylpaal bereik: die eerste volledige Bybel in Afrikaans is op daardie dag amptelik in ontvangs geneem. Hierdie gebeurtenis het Afrikaanssprekende Christene nuwe hoop en ’n eie stem in hulle geloofslewe gegee.
Die oorspronklike 1933-vertaling was nie net ’n geloofsdaad nie, maar ook ’n monument van taalontwikkeling en kultuurerfenis. Die vyf eindvertalers – drr JD Kestell, JD du Toit (Totius), EE van Rooyen, BB Keet en HCM Fourie – het bykans 10 jaar lank aan die vertaling gewerk om die Woord van God getrou in Afrikaans weer te gee.
Sedert daardie historiese dag in 1933 het die Bybelgenootskap van Suid-Afrika meer as 12 miljoen Afrikaanse Bybels versprei. Die invloed van die Bybel in Afrikaans weerklink al vir geslagte – van die oorspronklike 1933-vertaling tot die mees onlangse 2020-vertaling. Elke generasie het die Woord in sy eie tyd beleef, maar die oorspronklike vertaling bly ’n onwrikbare ankerpunt in ons geloofs- en taalgeskiedenis.
Ter viering van Afrikaans se eeufees het die Bybelgenootskap besluit om ’n gedenkuitgawe van die oorspronklike 1933-vertaling te publiseer. Hierdie spesiale uitgawe is beskikbaar in ’n swart hardeband en bevat nie net die volledige teks van die 1933-vertaling nie, maar ook bykomende materiaal wat die geskiedenis van Afrikaans en die Bybel vertel.
Soos Afrikaans sy 100ste bestaansjaar vier, word die Afrikaanse Bybel se 92-jarige erfenis ’n bron van trots en ’n kragtige bewys van die taal se vermoë om die ewige boodskap van hoop, geloof en verlossing te dra. In die woorde van ds HPM Steyn in 1933: “Die Afrikaanse Bybel moet nie net aangeskaf word nie, maar gelees en geleef word.”
Die 1933-vertaling is beskikbaar by jou naaste Bybelhuis of aanlyn by www.bibleshop.co.za.