Kollig op Vrouemaand: Hanlie

Liewe Hanlie
Terwyl ek vandag sit en kyk na die foto van die sesjarige dogtertjie met die blink ogies, sien ek ‘n dogtertjie vol lewe en nuuskierigheid, wie se hele lewe nog voor haar lê. Ek wens ek kon jou vasdruk en vir jou sê hoe ongelooflik jou reis gaan wees. Ek wens ek kon jou voorberei, nie om die seerkry in die lewe te vermy nie, maar om jou te verseker dat jy elke storm sal oorleef en meer nog, dat jy so baie dinge gaan ervaar, soveel gaan leer.
Een woord vul my hart: dankbaarheid. Dankbaarheid vir die moeilike dae wat jou karakter gaan vorm, vir die verliese wat jou gaan leer om te laat gaan, vir die vreugdes wat jou gaan herinner aan wat werklik saak maak en bowenal, vir jou veerkragtigheid – daardie innerlike krag wat jou nie net deur moeilike tye gaan dra nie, maar jou gaan vorm tot wie jy vandag is.
Jy gaan die voorreg hê om in die hart van die Boland groot te word, waar die berge waghou oor die valleie. Die vryheid van die platteland gaan jou leer om vreugde in die klein dingetjies te vind: die natuur, die reuk van reën op droë grond, die stilte ná ‘n lang dag.
As oudste van drie kinders gaan jy jou plek verstaan – stilweg, sonder om te kla. Jy gaan al vroeg leer wat dit beteken om sterk te wees, selfs al het niemand dit hardop gesê nie. Jy gaan lag terwyl jy swaar dra en jy gaan gee sonder om altyd iets terug te verwag.
Die lewe gaan jou soveel rolle laat speel – dogter, suster, vriendin, vrou, ma. Elke rol gaan iets van jou verg en tog gaan elkeen ook iets aan jou teruggee. Jy gaan leer liefhê met alles in jou, al laat dit jou soms weerloos. Jy gaan leer om te vergewe, nie omdat ander dit altyd verdien nie, maar omdat jy dit verdien om vry te wees.
Dan wil ek jou vertel van jou dogter. Sy is ‘n weerkaatsing van alles wat mooi en sterk is in jou. Sy dra jou lag in haar oë, jou vasberadenheid in haar dade. Jy gaan nie net ‘n kind grootmaak nie, jy gaan liefde laat leef.
As ek iets in jou oor kon fluister, sou dit wees: Hanlie, jy is genoeg. Jy sal altyd genoeg wees. Jy hoef nie alles reg te doen nie. Jy mag bang wees. Jy mag moeg wees. Jy mag vra. Die lewe is nie ‘n reguit pad nie – dit kronkel en draai, dit bring jou by plekke wat jy nooit sou kies nie, maar tog neem dit jou altyd waar jy moet wees. Moenie die pad vrees nie, dit is juis op hierdie pad wat jy jouself ontdek.
Vertrou altyd jou eie stem, selfs al fluister sy soms. Luister na haar, sy weet. En moenie so hard op jouself wees nie. Jy hoef ook nie altyd sterk te wees nie. Soms is die grootste krag juis daarin om te erken dat jy nie alles alleen kan dra nie en dan stadig maar seker weer op te staan.
Hou aan loop. Hou aan hoop. Hou aan glo. Jy gaan soveel beter doen as wat jy self besef.
Met al die liefde wat jy ooit nodig sal hê
Hanlie