Nuus, Tuis

Bybelgenootskap, kultuurorganisasies vier 90 jaar van die Bybel in Afrikaans

Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika vier vanjaar die 90ste herdenking van die Afrikaanse Bybelvertaling met ’n spesiale dankfees by die Voortrekkermonument in Pretoria. 

In 1933 kon Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners vir die eerste keer ’n volwaardige en volledige Bybel in Afrikaans in hul hand vashou.

Die dankfees word in samewerking met die Voortrekkermonument en FAK op 27 Augustus 2023 gehou, dieselfde datum waarop die Afrikaanse Bybel amptelik bekendgestel is asook die dag wanneer die Bybelgenootskap sy 203de verjaarsdag vier. 

Die vol feesprogram sluit onder andere Bybelvoorlesings; ’n boodskap deur die Uitvoerende Hoof van die Bybelgenootskap, ds Rodney van Wyk; optredes deur ’n koor en blaasorkes, sangers; asook die onthulling van ’n Saaier gedenkbeeld in. 

“Vanjaar kan ons met dankbaarheid terugkyk op die enorme invloed wat die Afrikaanse Bybel op miljoene mense se geloofsvorming gehad het asook die onskatbare bydrae wat dit tot die ontwikkeling van Afrikaans as taal gelewer het. Ons is vol vertroue dat die Afrikaanse Bybel sal voortgaan om ’n opbouende en blywende impak op toekomstige geslagte te hê en dat dit ’n belangrike rol sal speel in die vooruitgang van ons land,” het dr Gerhard Lindeque van die Bybelgenootskap se Noordelik Streek en een van die organiseerders gesê. 

“Hierdie dankfees vorm ook deel van die aanloop tot die eeufeesvieringe van Afrikaans wat in 2025 in die Paarl sal plaasvind. Ons het reeds die manifes onderteken om daaraan deel te neem,” het dr Lindeque bygevoeg.  Die buitelug dankfees word Sondag 27 Augustus 2023 om 15:00 by die Voortrekker­monument gehou. Die publiek is welkom en word versoek om hul kampstoele saam te bring.