Gebruik jou volgende uitdaging om lewens te verander
Die Aktiwiteite vir Bybels (A4B) fondsinsamelingsplatform maak dit maklik om fondse vir Bybels in te samel.
Daar is elke jaar duisende Suid-Afrikaners wat persoonlike uitdagings aanpak om hulle uithouvermoë, deursettingsvermoë en toewyding te toets.
Net die afgelope naweek het duisende atlete by die wegspring van die Comrades-marathon aangetree om die bykans 90 km in een van die wêreld se bekendste padwedlope aan te pak.
Hoewel die bevrediging om die wenstreep te bereik dikwels voldoende motivering is, vind baie deelnemers dat hulle pogings selfs meer betekenisvol kan wees.
Stel jou voor as elke kilometer wat jy hardloop, elke berg wat jy klim, elke pedaal wat jy trap, of selfs elke verjaardag wat jy vier, kan help om ’n Bybel in die hande van iemand te plaas wat dit nodig het.
Dit is die idee agter die Bybelgenootskap van Suid-Afrika se Aktiwiteite vir Bybels (A4B) fondsinsamelingsplatform.

Wat is Aktiwiteite vir Bybels (A4B)?
Aktiwiteite vir Bybels is ’n aanlyn fondsinsamelingsplatform waar individue, kerke, skole, maatskappye en gemeenskapsgroepe byna enige aktiwiteit in ’n fondsinsamelingsprojek kan omskep.
Deelnemers skep hulle eie ’n persoonlike fondsinsamelingsprofiel, kies ’n doelwit en nooi vriende, familie, kollegas en ondersteuners om hulle poging te ondersteun en so Bybelverspreiding en -vertalingsprojekte regoor Suid-Afrika te help befonds.
Die idee is eenvoudig: gebruik iets wat jy reeds doen om om iemand anders se lewe te help verander.
Hetsy jy vir ’n marathon oefen, aan ’n fietsrybyeenkoms deelneem, ’n gemeenskapstap reël, ’n verjaardag vier, ’n gholfdag aanbied of ’n persoonlike uitdaging aanpak, jou aktiwiteit kan Bybelwerk ondersteun.
Waarom mense fondse insamel
Daar is ’n groeiende begeerte onder mense dat hulle persoonlike prestasies ’n groter betekenis moet dra, wat verder as hulleself strek.
’n Medalje eindig in die laai op. ’n Verjaardag kom en gaan.
Maar wanneer hierdie oomblikke aan ’n betekenisvolle doel gekoppel is, strek die impak daarvan veel verder as die kortstondige bevrediging van persoonlike prestasie.
Die insameling van fondse deur persoonlike uitdagings bou ’n sterk verbintenis tussen jou poging en die strewe om ’n verskil te maak. Ondersteuners gee nie bloot vir ’n saak nie, hulle word deel van jou storie.
Elke donasie help om God se Woord beskikbaar te stel aan mense wat andersins dalk nooit ’n Bybel sou besit nie.
Leon van Moerkerken is iemand wie se fondsinsamelingspoging ’n groot hupstoot gekry het danksy die A4B-platform. Leon is ’n veteraan uithou-atleet wat vanjaar sy 35ste Comrades voltooi het. Hy gebruik A4B vir die afgelope bykans vier jaar.
“Die platform werk regtig lekker. Dit is moeiteloos om te registreer, jou doelwit te laai en te verander vir nuwe aktiwiteite. Dit is maklik om ’n skakel aan te stuur via e-pos, WhatsApp en om dit op sosiale media te deel. Behalwe vir die ondersteuning van regoor Suid-Afrika, kry ek nou ook donasies en borge van Singapoer, Australië, die VSA, Europa en Oekraïne,” verduidelik hy.

“Die e-posse wat jy ontvang wanneer ’n nuwe donasie ontvang word, asook die rekordhouding van bydraes, maak dit moontlik om my ondersteuners vinnig te bedank en tred te hou van my fondsinsamelingsdoelwit.”
Bybelbediening lê Leon na aan die hart. Hy hardloop reeds vir meer as 30 jaar vir Bybels.
“Drie-en-dertig jaar gelede het ’n verteenwoordiger van die Bybelgenootskap ons gemeente besoek. Hy het ons van die Bybelgenootskap se werk vertel, asook hoe mense daarby betrokke kan raak.
“Dit is vir my belangrik dat almal van God moet weet en meer van Hom kan lees en leer. Dit is hoekom ek vir Bybels begin hardloop het. In die begin jare moes jy ’n vorm invul, dit pos en dan het die Bybelgenootskap ’n amptelike borgvorm vir jou teruggepos waarop jy jou ondersteuners se besonderhede en bedrae kon invul. Dit het jou beperk tot slegs mense wat jy fisies kon sien.”
Nou is die ideale tyd om betrokke te raak
Die Comrades-marathon herinner ons daaraan dat groot prestasies dikwels een tree op ’n slag gebeur.
Nie almal kan die Comrades-marathon hardloop nie. Trouens, die meeste mense kan nie.
Maar elkeen kan iets doen.
Jy oefen dalk vir ’n Parkrun, berei vir ’n fietswedren voor, of beoog ’n bergstap op ’n plaaslike roete, swem om fiks te bly of werk na ’n persoonlike gesondheidsdoelwit.
Jy beplan dalk ’n fondsinsameling by ʼn skool, ’n kerkgeleentheid of vier binnekort ’n mylpaal verjaardag of herdenking.
Die A4B-fondsinsamelingsplatform gee jou die geleentheid om alledaagse oomblikke in geleenthede te omskep wat ’n verskil kan maak.
Meer as net ’n boek
Wanneer mense hoor van Bybelverspreiding, dink hulle dikwels aan boeke wat uitgedeel word. Maar dit is soveel meer as dit.
Vir ’n kind wat sy of haar eerste Bybel ontvang, kan dit ’n bron van leiding en hoop wees.
Vir ’n gemeenskap wat die Bybel vir die eerste keer in hul eie taal ontvang, beteken dit waardigheid, identiteit en insluiting.
Vir iemand wat deur moeilike tye gaan, rou of onsekerheid ervaar, kan die Bybel ’n bron van vertroosting en leiding wees.
Die vertaling en verspreiding van die Bybel verseker dat mense God se Woord in ’n taal en formaat kan ervaar wat hulle verstaan.
Fondsinsameling maak dit alles moontlik.
Elkeen kan deelneem
Een van die grootste voordele van Aktiwiteite vir Bybels is hoe buigsaam dit is.
Jy hoef nie ’n atleet te wees nie. Jy hoef nie aan ’n groot organisasie te behoort nie. Jy het nie ervaring in fondsinsamelings nodig nie.
Al wat nodig is, is die bereidwilligheid om jou belangstellings, vaardighede of persoonlike doelwitte te gebruik om ’n waardige saak te ondersteun.

Sommige mense hardloop. Ander ry fiets. Ander stap.
Ander reël geleenthede, organiseer uitdaagkompetisies by die werk of vra vriende om geld te skenk eerder as om geskenke te koop.
Elke veldtog is uniek, maar hulle werk almal om een doel: om die Bybel vir meer mense beskikbaar te stel.
Begin jou eie uitdaging
Die sukses van die Comrades-marathon wys wat moontlik is wanneer mense hulle tot een doel wy en die proses stap vir stap aanpak.
Dieselfde idee geld vir fondsinsameling. Jy het nie nodig om met ’n groot veldtog af te skop nie. Jy hoef net te begin.

Jou volgende wedloop, stap, fietswedren, feesviering of uitdaging kan help om Bybels beskikbaar te stel aan mense wat honger is om God se Woord vir self te lees.
Die vraag is nie of jy die Comrades gaan hardloop nie, maar eerder, watter aktiwiteit jy kan gebruik om lewens te verander. Besoek die Aktiwiteite vir Bybels-platform vandag en ontdek hoe jou volgende uitdaging kan help om God se Woord in die hande te plaas van iemand wat dit die nodigste het.
Ondersteun ons huidige Bybelvertalingsprojekte
Koop bekostigbare Bybels in jou taal aanlyn
Lees die Bybel gratis in 11 Suid-Afrikaanse tale