Advent: Die koms van die Messias
Advent is ‘n tyd van hoopvolle afwagting, nadenking en liefde. Dit merk die begin van die Christelike kalender – ‘n vier weke lange reis wat lei tot Kersfees, wanneer Christene hul harte en tuistes voorberei om die koms van Christus te vier.
Gelowiges regoor die wêreld vier reeds eeue lank Advent. Hierdie seisoen van herdenking sluit in die weeklikse aansteek van kerse, die sing van gesange en daaglikse Skriflesing. Dit is ‘n tyd waarin ons ons lewens om die Woord van God sentreer, met die belofte van verlossing wat daarin vervat is.
Ons lewens is dikwels gejaagd, maar Advent gee ons die geleentheid om stil te raak en te besin. Dit herinner ons daaraan dat, voordat die vreugde van Kersoggend gekom het, God se mense lank moes wag – geslagte wat vasgehou het aan die belofte van ‘n Messias.
Die betekenis van Advent
Die woord “Advent” kom van die Latynse woord adventus, wat “koms” of “aankoms” beteken. Dit dui op die eerste koms van Jesus – sy geboorte in Betlehem – asook sy wederkoms, wanneer Christus as Koning sal terugkeer.
Tydens die vier weke van Advent fokus die Kerk tradisioneel op vier sentrale temas: hoop, vrede, vreugde en liefde. Elke week bou voort op die vorige een en bring ons nader aan die hart van God se verlossingswerk.
Deur doelbewus tyd in die Woord deur te bring tydens Advent, verskuif ons die fokus van die bedrywigheid van die feesseisoen na die ware bron van vreugde: Jesus Christus, God se lewende Woord.
Week 1: Die kers van hoop
Advent begin met hoop – ‘n hoop wat ons geloof in tye van onsekerheid anker.
| Skriflesing: Jesaja 9:2-7; Romeine 15:12-13; Lukas 1:26-38 |
Jesaja se profesie vertel: “Die volk wat in donkerte geleef het, het ‘n groot lig gesien …” In die Evangelie van Lukas lees ons van Maria se geesgevulde “ja” in antwoord op God se plan, wat beklemtoon dat hoop uit vertroue en gehoorsaamheid voortspruit.
Soos jy hierdie gedeeltes lees, besin oor waar jy hierdie seisoen jou hoop plaas.
Jy kan daagliks hierdie verse lees en daaroor nadink deur gebruik te maak van BibleSA – die Bybelgenootskap se toeganklike en gratis aanlyn platform waar die Woord in verskeie Suid-Afrikaanse tale en vertalings gelees kan word.
Week 2: Die vers van vrede
Die tweede kers verteenwoordig vrede. Dit is nie die afwesigheid van konflik nie, maar ‘n diepe en blywende vrede wat net Christus kan gee.
| Skriflesings: Jesaja 11:1-10; Johannes 14:27; Filippense 4:6-7 |
Ons vind hierdie vrede wanneer ons in God se beloftes berusting vind en ons bekommernisse aan Hom gee. Dit is ‘n vrede wat alle verstand te bowe gaan en wat ons harte en verstand deur Jesus Christus bewaar.
Gebruik hierdie week om vir vrede te bid – vrede in jou gesin, jou gemeenskap en jou land. BibleSA bied daaglikse leesplanne wat jou help om konsekwent en gefokus te bly in jou soeke na God se vrede.
Week 3: Die kers van vreugde
Die derde week van Advent word gekenmerk deur vreugde. Die kleur van hierdie kers is dikwels pienk, wat jubel simboliseer.
| Skriflesings: Lukas 2:8-14; Psalm 16:8-11; Filippense 4:4-5 |
Die engel se verkondiging – “Ek bring goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is” – weerklink vandag nog. Ware vreugde word nie deur ons omstandighede bepaal nie, maar deur die onveranderlike werklikheid van God se liefde.
As hierdie seisoen vir jou moeilik is, of jy alleen voel, laat die Bybel jou opnuut met vreugde vul. Die BibleSA-platform bied oordenkings en leesplanne wat jou help om te besin oor die vreugde wat Christus bring te midde van die uitdagings van die lewe.
Week 4: Die kers van liefde
In die aanloop tot Kersfees, steek ons die kers van liefde aan.
| Skriflesings: Johannes 3:16-17; 1 Johannes 4:9-11; Matteus 1:18-25 |
Adventsliefde is nie sentimenteel nie; dit is selfopofferend. Dit is die liefde van ʼn God wat die menslike geskiedenis binnekom – in ʼn krip gebore om sy mense te verlos.
Fokus hierdie week op God se liefde soos dit deur Christus aan ons openbaar is. Dink na oor hoe jy hierdie liefde met ander kan deel. Lees een van die Evangelies en laat die verhaal van Jesus se geboorte jou hart met dankbaarheid en simpatie vul.
Kersdag: Die Lig van Christus
Uiteindelik, op Kersdag, vier ons die volbringing van al God se beloftes – die koms van die Lig in die wêreld.
| Skriflesings: Lukas 2:1-20; Johannes 1:1-14; Titus 3:4-7 |
Die wag is verby: Immanuel – God met ons – het gekom. Soos jy die gedeeltes lees, dank God vir sy getrouheid. Die Kersverhaal is nie net ‘n historiese gebeurtenis nie, maar ook een van voortdurende hoop: dieselfde Jesus wat as ‘n baba sy verskyning gemaak het, sal eendag in sy heerlikheid terugkeer.
Delf dieper tydens Advent
As jy hierdie Advent konsekwent en geestelik gefokus wil bly, besoek www.biblesa.co.za vir ‘n verskeidenheid gratis hulpmiddels om jou te lei in Skriflesing en nadenking:
- Daaglikse leesplanne – verken temas soos hoop, vreugde en God se beloftes
- Verskeie vertalings – lees in jou hartstaal
- Vers van die Dag – begin elke oggend met inspirasie en oordenking
- Boekmerk en notas – merk gedeeltes of maak notas van wat God aan jou openbaar tydens Advent
Of jy nuut is tot daaglikse Skriflesing of al ‘n gesoute Bybelleser is, BibleSA is ontwerp om die Bybel toeganklik te maak – enige tyd en enige plek.
‘n Laaste gedagte
Advent is meer as bloot die aftel van dae na Kersfees – dis ‘n uitnodiging om nader aan God te kom. Mag jou hart deur die lewende Woord vernuwe word terwyl jy deur hierdie weke van hoop, vrede, vreugde en liefde reis. Laat hierdie ‘n seisoen wees van dieper toewyding en afwagting. En terwyl jy jou Bybel oopmaak – of dit nou in druk of aanlyn is – mag jy Christus opnuut ontmoet: die Een wat steeds kom om lig in ons wêreld te bring.
Ondersteun ons huidige Bybelvertalingsprojekte
Lees die Bybel gratis in 11 Suid-Afrikaanse tale
Koop bekostigbare Bybels in jou taal aanlyn