Paasfeesboodskap van die BSA se Uitvoerende Hoof
“Vanaf die sesde tot die negende uur het daar duisternis oor die hele aarde toegesak. Teen ongeveer die negende uur het Jesus met ’n harde stem uitgeroep: ‘Eli, Eli, lemá sabagtáni?’ Dit beteken ‘My God, my God, waarom het U My verlaat?’ Toe sommige van dié wat daar staan, dit hoor, het hulle gesê: ‘Hy roep na Elia.’ Dadelik het een van hulle nader gehardloop, ’n spons geneem, dit in suur wyn geweek, op ‘n riet gesit, en vir Hom gegee om te drink. Maar die ander het gesê: ‘Wag, laat ons sien of Elia hom kom red.’ Toe het Jesus weer met ‘n harde stem uitgeroep en sy asem uitgeblaas. En kyk, die voorhangsel in die heiligdom is van bo tot onder in twee geskeur, die aarde is geskud en die rotse is oopgebreek. Die grafte is geopen en baie liggame van ontslape heiliges is opgewek. Hulle het ná sy opstanding uit die grafte gekom, die Heilige Stad binnegegaan en aan baie verskyn. Toe die centurio en dié wat Jesus saam met hom bewaak het, die skudding en die dinge wat gebeur, sien, was hulle vreesbevange en het gesê: ‘Hy was werklik Seun van God.’ Daar was baie vroue teenwoordig wat van ver af toegekyk het. Dit was vroue wat Jesus van Galilea af gevolg en Hom gedien het. Onder hulle was Maria Magdalena, Maria, die moeder van Jakobus en Josef, en die moeder van die seuns van Sebedeus.” (Matteus 27:45-56, 2020-vertaling)
Om God te ken: ’n Begrip van die kruisiging
Wanneer die verhaal van Jesus se kruisiging vertel of verkondig word, word Hy dikwels uitgebeeld as ’n hopelose figuur op die kruis wat die stryd teen die owerhede van sy tyd verloor het. ’n Hopelose man wat, ten spyte van sy boodskap van hoop, alleenlik die mense kon oortuig dat sy woorde waar is deur homself aan mislukking oor te gee.
Daar is dié wat geneig is om simpatie te hê met Jesus wat, in hulle oë, sy lewe uit opoffering vir die mensdom afgelê het. Ander sukkel om Hom as leier te volg, omdat Hy hulpeloos aan ’n kruis gesterf het.
Sommige gaan selfs sover as om te sê dat Jesus deur God verwerp en vervloek is, en verwys na Deuteronomium 21:22-23: “As iemand ’n sonde begaan wat die doodstraf verdien, en hy gedood word en jy hom aan ’n houtpaal hang, mag sy lyk nie die nag aan die paal bly hang nie; maar jy moet hom beslis daardie selfde dag nog begrawe. Iemand wat aan ’n paal gehang word, is immers ’n vervloekte by God. Jy mag nie jou grondgebied wat die HERE jou God vir jou as erfdeel gaan gee, verontreinig nie.”
Indien ’n kruisdood as ’n vloek beskou word, hoe is dit dan moontlik dat Paulus kon verklaar: “Ek het besluit om by julle van niks anders te weet nie as van Jesus Christus, en Hom as gekruisigde.” (1 Korinthiërs 2:2)
Paulus identifiseer homself ten diepste met die kruis. In sy brief aan die gemeente van Galasië skryf hy: “Met Christus is ek gekruisig; ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my! Die lewe wat ek nou liggaamlik leef, leef ek in geloof, die geloof in die Seun van God, wat my liefgehad en Homself vir my oorgegee het.” (Galasiërs 2:19-20)
Alhoewel die wrede toneel op Golgota vir Jesus se volgelinge ʼn toneel van diepe hartseer en rou verteenwoordig, is dit in werklikheid die finale daad van sy oorwinning oor die bose. Wanneer Jesus oor sy kruisiging praat, doen Hy dit vanuit ‘n posisie van mag: “Om hierdie rede het die Vader my lief – omdat Ek my lewe aflê, sodat Ek dit weer kan opneem. Niemand neem dit van my weg nie, maar Ek lê dit uit Myself af. Ek het volmag om dit af te lê, en Ek het volmag om dit weer op te neem. Hierdie opdrag het Ek van my Vader ontvang.” (Johannes 10:17-18)
Pontius Pilatus, tydens Jesus se verhoor, is verstom oor sy kalmte en weiering om Homself te verdedig: “Pilatus sê toe vir hom: ‘Praat u nie met my nie! Weet u nie dat ek volmag het om u vry te laat, maar ook volmag het om u te laat kruisig nie?’ ” (Johannes 19:10)
Maar, selfs in die aangesig van Pilatus se wêreldse gesag, bly Jesus onversteurd: “U sou geen volmag oor my gehad het as dit nie van bo aan u gegee is nie. Daarom is hy wat My aan u oorgelewer het, aan ’n groter sonde skuldig.” (Johannes 19:11)
Vroeër in die verhoor word Jesus uitgevra oor sy aanspraak rakende sy koninkryk, waarop Hy antwoord: “My koningskap is nie van hierdie wêreld nie. As my koningskap van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer word nie. Maar nou is my koningskap nie van hierdie wêreld nie.” (Johannes 18:36)
Pilatus, oortuig van Jesus se onskuld, poog om Hom vry te laat en wil geen aandeel hê aan sy dood nie.
’n Verlate Verlosser?
Hoe behoort ons Jesus se aangrypende uitroep aan die kruis, “Eli, Eli, lema sabachthani?” (“My God, my God, waarom het U my verlaat?”) te verstaan?
Was Jesus werklik deur God verwerp? Waarom sou God se vloek op Hom rus?
Jesus het nie hierdie woorde uitgespreek as gevolg van wanhoop of verlies van beheer oor die sitausie nie. Inteendeel, selfs aan die kruis tree Hy op as die Hoëpriester wat die volmaakte offer vir die mens se sondes bring. Deur hierdie woorde te uiter, haal Jesus Psalm 22 aan – ʼn profetiese psalm wat ongeveer 1 000 jaar vroeër deur Koning Dawid geskryf is waarin die lyding van die Messias beskryf word.
Dawid, wat beskryf word as God se oogappel, het ’n intieme verhouding met God gehad en aan hom is die belofte gemaak dat sy nageslag vir ewig op die troon van God se volk sal sit. Hierdie belofte is vervul met Jesus wat gebore is uit die geslagslyn van Dawid.
Jesus se woorde is ʼn bevestiging van God se toorn teenoor sonde. Wanneer God sy aangesig van sy Seun wegdraai, bevestig dit dat Jesus die draer van God se oordeel geword het – in die plek van die mensdom. Sonder sonde, soos die vlekkelose offerlam, het Hy die volmaakte offer geword wat die prys betaal het vir die mensdom se sonde teen God.
Deur Jesus se kruisdood het Hy dit vir die mens moontlik gemaak om weer die allerheilige teenwoordigheid van God te betree. Die verhouding tussen mens en God, wat by die sondeval in die tuin van Eden verbrokkel het, word deur die kruis herstel.
Omdat Jesus eens en vir altyd vir die sondes van die wêreld versoening gedoen het, tree Hy nou op as Middelaar tussen God en die mens. Hy is die Seun van God én die Seun van die Mens. Die skuld van die mensdom is ten volle betaal: Dit is volbring.
Tot op die oomblik van Jesus se dood was die geestelike rituele van die Joodse tempel slegs ʼn heenwysing na die toekomstige verhouding tussen God en die mens na afloop van die versoening wat op Golgota sou plaasvind.
Die skeppingskrag van die kruis
Omstreeks drie-uur die middag het duisternis die aarde bedek en vir drie ure geduur. Verskeie Bybelkommentators beskou hierdie duisternis, saam met Jesus se uitroep, as ʼn teken van die omvang van God toorn wat op sy Seun uitgestort is.
Jesus se woorde aan die kruis is die woorde van lyding wat ons moes geuiter het, maar wat Hy in ons plek gedoen sodat ons nooit deur God verlaat hoef te wees nie.
Die duisternis en aardbewing dui op die chaos wat sonde na die aarde gebring het. Dit herinner ʼn mens aan die chaos en duisternis wat daar was voordat God orde gebring het en ʼn ruimte geskep waar mense kon leef. Met ons sonde het ons dít wat goed was besoedel en in die drie ure van duisternis is die donker magte weer onthul.
Selfs in hierdie tyd van chaos is God in beheer – weereens herstel sy Woord orde. In Esegiël word dit pragtig beskryf as ʼn stroom vloeiende water wat vanuit die tempel vloei en wat lewe bring aan die woestyn en selfs die Dooie See.
Jesus se woorde aan die dissipels en die Samaritaanse vrou oor hoe God in die toekoms aanbid sal word, word hier vervul. Die woorde van Jesus bevestig dat Hy alleen die verantwoordelikheid dra vir die verlossing van die mensdom, asook vir die herskepping van alles. Die gordyn van die Allerheiligste word middeldeur geskeur – ʼn teken dat die heilige teenwoordigheid van God nie langer afgesonder is nie, maar nou aan die wêreld, selfs aan die donker, geopenbaar word. Hiermee word ʼn nuwe bedeling ingelei in die verhouding tussen God en mens: “In Hom was lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis kon dit nie uitdoof nie.” (Johannes 1:4-5).
Hoe die kruis ons verander het
Die Hoëpriester het die prys betaal wat vir ons sondes vereis is, en die verhouding tussen God en mens is herstel!
Die tempel het sy funksie verloor, aangesien ons nou die tempel van God is. Paulus herinner die Korinthiërs: “Weet julle nie dat julle ʼn tempel van God is, en dat die Gees van God in julle woon nie? As iemand die tempel van God skade aandoen, sal God hom skade aandoen; want die tempel van God is heilig, en dié tempel is julle.” (1 Korinthiërs 3:16-17)
Ons is heilig, nie op grond van eie verdienste nie, maar as gevolg van Christus se offer en omdat die Gees van God, wat eens in die tempel gewoon het, nou in ons woon. In geloof aanvaar ons die Hoëpriester wat ons die wet van God leer. Wanneer ons ons geloof in Hom plaas, word ons weer gehoorsaam aan God.
“Jesus antwoord hom: ‘As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.’ ” (Johannes 14:23)
Jesus het die belofte vervul wat God gemaak het om die wêreld te verlos. Hy is nou weer alomteenwoordig in sy heerlikheid en verklaar: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op die aarde.” (Matteus 28:18)
As sy tempel op aarde het ons nou die taak om mense in die teenwoordigheid van God te bring. So beveel Jesus ons: “Gaan dan en maak dissipels van al die nasies, deur hulle te doop in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees, en hulle te leer om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd.” (Matteus 28:19-20)
Wanneer ons Paasfees vier, kruisig ons Jesus nie weer nie. Hy leef en heers oor ons binne die nuwe verhouding wat Hy deur sy offer tot stand gebring het. Ons vreugde lê nie in die omstandighede waarin ons onself bevind nie, maar in wie ons is – danksy Hom.
Ondersteun ons huidige Bybelvertalingsprojekte
Lees die Bybel gratis in 11 Suid-Afrikaanse tale
Koop bekostigbare Bybels in jou taal aanlyn