Vier 204 jaar van Bybelwerk saam met die Bybelgenootskap van Suid-Afrika!
Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA) herdenk op Vrydag, 23 Augustus 2024, sy 204de bestaansjaar.
Sedert die BSA se stigting in 1820, het die BSA en diegene in diens van die organisasie met groot toewyding daarna gestreef om die visie van ’n Bybel vir elkeen te verwesenlik. In die praktyk behels dit die vervaardiging van Bybels in die hartstaal van die diverse mense van Suid-Afrika in formate wat die Woord van God vir hulle toeganklik maak.
Selfs deur moeilike tye soos wêreldoorloë en die Groot Depressie, het die Bybelgenootskap daarin geslaag om te oorleef danksy die genade en voorsiening van God. God se guns en genade het die Bybelgenootskap in staat gestel om deur die laaste twee eeue ongeveer 42 miljoen Bybels te versprei.
Ons bou voort op hierdie fondasie en plaas ons geloof en vertroue in God wat ons pogings vorentoe ook suksesvol kan maak. Spreuke 16 wys ons daarop: “Vertrou wat jy doen aan die Here toe, dan sal jou planne standhou.”
Augustus is ook Bybelmaand en ter viering hiervan, fokus baie kerke op Bybelverspreiding en fondsinsamelings vir die BSA. Ons bied ook ons jaarlikse Draf Stap Trap vir Bybels aan en nooi almal om aan hierdie geleentheid deel te neem en aktief te wees vir Bybels.
Nuwe webblad bekendgestel
Die bekendstelling van ons nuwe korporatiewe webtuiste is een van die hoogtepunte van ons verjaarsdagvieringe vanjaar.
Een van die grootste opgraderings is dat die webtuiste nou heeltemal aanpasbaar is vir enige skermgrootte, ongeag watter toestel gebruik word, wat ’n gemakliker rondblaai-ervaring waarborg. Die betaalblad op ons vorige webtuiste het die donasieproses vir donateurs omslagtig gemaak. Danksy die verbeterde blad is die registrasieproses nou heelwat vinniger en is onmiddellike betalings moontlik.